Central SA
Navalsig-polisie vra hulp: Bloemfonteiner langer as 2 weke vermis─── 12:35 Fri, 17 May 2024
“Hy is onlangs weg uit ’n rehabilitasiesentrum sonder om die kursus te voltooi.”
’n Man van Bloemfontein, wat nog onlangs in ’n rehabilitasiesentrum was, word vermis.
Die Navalsig-polisie is op soek na ’n man van Bloemfontein wie se broer hom as vermis aangemeld het. Werner Smit (30) is laas op Donderdag 2 Mei by sy broer se huis in Noordhoek gesien. Hy het ’n swart denim, swart baadjie en swart-en-wit tekkies aangehad.
Smit het ’n kenmerkende tatoeëermerk met drie sterre aan die buitekant van sy linkerboarm. Hy is onlangs weg uit ’n rehabilitasiesentrum sonder om die kursus te voltooi.

Werner Smit is meer as twee weke laas gesien. Foto: SAPD
Hy was glo in ’n rehabilitasiesentrum, maar het nie sy program voltooi nie. “Werner, wat vermoedelik op straat bly, besoek gereeld sy broer by sy huis in Noordhoek, maar nadat hy hom twee weke laas gesien het, het hy bekommerd begin raak,” sê kapt. Hendrik Erasmus, ondersoekbeampte.
“Ons het vanoggend ’n oproep ontvang van iemand wat beweer het dat hulle Werner gesien het, maar ons is tans besig om die leidraad op te volg.”
Enigiemand wat die polisie kan help om Smit op te spoor, word versoek om kapt. Hendrik Erasmus by 082 467 6348 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel. Anonieme wenke kan gestuur word via die MySAPS-app vanaf ’n slimfoon.

Intussen het die polisie in Welkom het ’n soektog geloods nadat ’n matriekleerling sedert verlede Vrydag (10/05) vermis word. Thato Tumahole (19) is deur haar ma, Pulane, as vermis aangemeld nadat sy teen 18:00 nog nie by die huis opgedaag het nie, sê kapt. Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Thato sou glo op die betrokke dag saam met vriende gaan kuier het, maar sy het nie opgedaag nie. Haar kêrel het haar ook die laaste keer om 13:30 gesien.”
Thato het tydens haar verdwyning ’n kort bruin top, blou denimbroek en swart Crocs aangehad. Sy het lang donkerbruin hare.
Enigiemand met inligting oor waar sy haar dalk bevind, kan speursers. Malebo Mahlatsi van die Welkom-speurtak by 072 229 1034 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel of die MySAPS-app gebruik.
