Central SA
Vermiste man van Kathu, honde se liggame spoel uit─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:18 Mon, 20 May 2024

“NSRI Melkbosstrand het Dinsdagaand ’n oproep van bekommerde familielede ontvang nadat hulle ongeveer ’n uur tevore laas kontak met die twee mans gehad het.”
Die vermiste man van Kathu wat sedert Dinsdag (14/5) vermis was, se liggaam het by Melkbosstrand noord van Kaapstad uitgespoel.
Die Melkbosstrand-polisie het Dinsdag ’n soektog begin nadat Pierre Lotter (23) en drie worshonde vermoedelik in die see verdwyn het toe hy en sy oom Willem Pretorius (47) op die rotse by Bloubergstrand gehengel het. Pretorius se liggaam is dieselfde dag gevind.
Lotter se liggaam het Sondagoggend (19/5) teen ’n wal by Haakgatstrand in Melkbosstrand uitgespoel. Een van die worshonde se liggaam is Vrydag gevind en die ander twee is ook Sondag gevind. Albei honde het verdrink.
The body of a man, believed to be that of Pierre Lotter, 23, from Kathu, Northern Cape, was located and recovered on Sunday, 19 May, near to Melkbosstrand. https://t.co/ZWs9MB5rsN
— National Sea Rescue Institute (@NSRI) May 20, 2024
“Die Melkbosstrand-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen. ’n Nadoodse ondersoek sal ook gedoen word om die presiese oorsaak van dood te bepaal,” sê ao. Joseph Swartbooi, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder.
Die stasiebevelvoerder van NSRI Melkbosstrand, Hein Köhne, het Dinsdagaand omstreeks 19:30 ’n oproep van bekommerde familielede ontvang nadat hulle ongeveer ’n uur tevore laas kontak met die twee mans gehad het.
Bemanningslede is na die gebied gestuur, waar hulle die liggaam van Pretorius naby die Blue Peter-hotel gevind het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Pierre en sy oom het vermoedelik by Kids Rock visgevang en die rots met laaggety bereik, het Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, vroeër gesê. “Met die inkomende hooggety, wat teen 20:30 gedraai het, is ons vermoede dat hulle iewers tussen 18:30 en 19:30 dalk probeer het om oor die kanaal te swem.
“Ondanks ’n omvattende lug-,see-, en kussoektog is daar geen teken van die vermiste man en die honde nie.”
“Ons wil baie dankie sê aan die Stad Kaapstad se wetstoepassers, NSRI, die polisie se duikeenheid, Table View se polisie en almal vir hul onvermoeide pogings om Pierre en sy honde te vind, “ sê Lotter se ouers Tienie en Landie, wat einde April na die Wes-Kaap verhuis het.