Central SA
Matjhabeng-burgemeester nog nie in hegtenis geneem nie─── ZENANDE MPAME 16:00 Mon, 20 May 2024
“’n Tweede saak van gewone aanranding en intimidasie is teen die Matjhabeng-burgemeester geregistreer.”
Matjhabeng se burgemeester is nog nie in hegtenis geneem nadat ’n saak van gewone aanranding en intimidasie teen hom aanhangig gemaak is nie.
Die aanranding-en-intimidasiesaak is Woensdag (15/5) geopen, nadat die 45-jarige klaer beweer het dat Thanduxolo Khalipha (63) sy vinger teen sy borskas en voorkop gedruk het.
“Voorts word beweer die verdagte het gesê hy sal mense kry om die klaer dood te maak as hy nie mense hom as die uitvoerende burgemeester laat respekteer nie,” sê Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Niemand is nog in hegtenis geneem nie, terwyl ons ondersoek voortgaan.”
Another assault case opened against Matjhabeng Mayor
Dit is die tweede saak van gewone aanranding wat binne drie maande teen Khalipha geopen is.
Khalipha staan reeds tereg op aanklagte van gewone aanranding en twee aanklagte van crimen injuria nadat hy na bewering sy lyfwag in Februarie aangerand het. Hy moet op Vrydag (24/5) in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn.
Die burgemeester is in April in hegtenis geneem en op ’n waarskuwing vrygelaat om later in die hof te verskyn, nadat hy na bewering sy lyfwag aangerand het.
Free State mayor arrested for alleged assault of bodyguard
“Ons kan bevestig ’n saak van gewone aanranding is teen die Matjhabeng-burgemeester, Thanduxolo Khalipha, by die Welkom-polisiekantoor deur sy lyfwag geopen,” het Thakeng gesê. “Die saak is na die Odendaalsrus-polisiekantoor oorgeplaas vir verdere ondersoek.”
Samwu-lede het voorheen vir die verwydering van Khalipha as burgemeester gevra, “omdat hy bewys het dat hy ’n boelie en teisteraar van werknemers is”, het Samwu se provinsiale sekretaris, Tiisetso Mahlatsi, gesê.
Dié voorval het gebeur nadat die burgemeester ’n gemeenskapsvergadering by die Hoërskool Kutlwanong in Odendaalsrus bygewoon het. Sy lyfwagte het hom van die toneel verwyder en hom in ’n motor gehelp, nadat geweld uitgebreek het. Met hul aankoms by die motor het gemeenskapslede die motor met klippe begin gooi en die agterruit gebreek.
Calls increase for Matjhabeng mayor to vacate office
Die lyfwag skryf in sy verklaring hy is opdrag gegee om die voertuig te stop, en toe hy dit doen, het die burgemeester hom vier keer geklap en op hom en sy kollega gevloek. Ná die aanranding het die burgemeester die lyfwagte opdrag gegee om die beskadigde motor na die kantoor te neem en hy het in ’n ander voertuig geklim.
OFM Nuus het vroeër berig politieke partye en vakbonde het ’n beroep op Khalipha gedoen om te bedank ná klagtes oor sy optrede teenoor werknemers en bewerings van wanadministrasie, insluitend misbruik van munisipale eiendom.
