On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

SUT-student se moord: Vier verdagtes se verhoor begin in Julie

───   ZENANDE MPAME 16:16 Mon, 20 May 2024

SUT-student se moord: Vier verdagtes se verhoor begin in Julie | News Article
Verhoordatum van vier verdagtes in SUT-student se moord vir Julie bepaal. Foto: X

“Die vier beskuldigdes in die saak is op borgtog vrygelaat.”

Die saak teen die vier verdagtes wat vir die dood van ’n student van die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) in hegtenis geneem is, is tot Woensdag 3 Julie vir ’n verhoordatum uitgestel.

Tumelo Monyane (27), Thabang Mabesa (25), Neo Molefe (23), en Thato Mahlomela (20) het Maandag (20/5) in die Bloemfonteinse landdroshof in Bloemfontein verskyn.

Die borgtog is vasgestel op R500 vir beskuldigdes 1 en 3 en R1000 vir beskuldigdes 2 en 4. Hulle het Donderdag 11 April hul eerste hofverskyning gemaak nadat hulle onmiddellik ná die aanval op Dinsdag 9 April in hegtenis geneem is.

Vier verdagtes weer in hof ná SUT-student se dood

“Die saak is uitgestel en die beskuldigdes sal na verwagting op 3 Julie weer in die hof wees vir ’n verhoordatum,” sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder.

Intussen soek die naasbestaandes en vriende van ’n jong prokureur van Bloemfontein na antwoorde en geregtigheid nadat hy in ’n gewilde kuierstraat doodgesteek is.

Jesse Seekoei (26) se lewe is op 26 April tragies kortgeknip. Sy pa, Vernon Seekoei, het in sy brief aan die polisie genoem dat hulle ’n regverdige ondersoek na die omstandighede rondom sy seun se moord eis.

“’n Moordsaak is aanhangig gemaak en die polisie ondersoek in hierdie stadium beeldmateriaal van besighede naby die toneel,” het Vrystaatse polisiewoordvoerder Thabo Covane gesê.

Bloemfonteinse prokureur se familie soek antwoorde ná sy moord

Die DA bly hoogs bekommerd oor die niefunksionele voetgangerligte in Willows. “Hierdie ligte is etlike jare gelede geïnstalleer, maar werk steeds nie,” het DA-rdl. Werner Pretorius gesê.

“Die DA het aan die burgemeester van MMM, Gregory Ntathisi, geskryf en die dringende herstel van hierdie ligte gevra om die veiligheid van inwoners in die gebied te verhoog.”

In dieselfde asem het die DA die energievoorsiener van Mangaung, Centlec, geloof vir die installering van nuwe hoëmasligte in verskeie parke en oop ruimtes in Brandwag en Universitas, en rondom die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Nuwe hoëmasligte geïnstalleer. Foto: Facebook/Centlec

“Ons glo dat die nuwe masligte grootliks sal help om openbare veiligheid te verhoog en oortredings van verordeninge soos onwettige storting, geraasbesoedeling en misdaad in die algemeen te beperk,” het Pretorius gesê. “Die installasie in Hugopark, Brandwag, is minder as 50m van waar ’n regstudent ’n paar weke gelede beroof en vermoor is terwyl hy huis toe gestap het.”

Die politieke party het sy dank uitgespreek teenoor die plaaslike buurtwagte, inwoners en die DA se studentetak op die UV-kampus wat die pleidooi vir meer beligting in daardie gebiede ondersteun het.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.