On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Leerling kritiek ná sprong van Loch Logan se dak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:10 Tue, 21 May 2024

Leerling kritiek ná sprong van Loch Logan se dak | News Article
Foto: Bloemfontein Courant

“Die leerder het veelvuldige beserings opgedoen en is net ná die voorval na die Pelonomi-hospitaal gehaas.”

’n Leerder van ’n spogskool in Bloemfontein verkeer in ’n kritieke toestand nadat hy van ’n inkopiesentrum se dak af gespring het.

Die Parkweg-polisie is Sondag (19/5) na die Loch Logan Waterfront-inkopiesentrum ontbied nadat ’n 17-jarige leerder van Grey Kollege ernstige beserings opgedoen het, sê lt.kol. Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Die voorval het omstreeks 14:56 plaasgevind aan die Eerstelaan-kant van die sentrum.

Braam van Wyk, Grey-skoolhoof, het bevestig dat die seun ’n gr.11-koshuisleerder is. “Die polisie het my Sondag omstreeks 17:00 van die voorval in kennis gestel en ek het toe sy pa laat weet.”

Van Wyk sê die leerder het teen Dinsdag (21/5) begin reageer en onder omstandighede gaan dit beter met hom, hoewel hy nog kritiek is. Hy is steeds in die intensiewesorgeenheid.

Die leerder het veelvuldige beserings opgedoen en is net ná die voorval na die Pelonomi-hospitaal gehaas. Covane sê die seun was by sy bewussyn.

Meryl Henning, bemarker van Loch Logan Waterfront, het die voorval bevestig en sê volgens die kringtelevisie was die leerder alleen. “Die voorval word deur die eienaars en bestuur van Loch Logan Waterfront betreur.”

Zenande Mpame het vroeër berig verskeie gevaarligte kan wys iemand dink daaraan om hul eie lewe te neem. Die onlangse dood van ’n familielid of vorige selfmoordpogings kan moontlik ook bydraende faktore wees.

Die tema vir vanjaar se Wêreldselfmoordvoorkomingsdag is “Changing the Narrative”.

Die individue noem ook soms dat hulle van plan is om hul lewe te beëindig. Die meeste mense wat selfmoord probeer pleeg, kommunikeer eers hul bedoelings deur middel van dade of woorde voordat hulle enige aksie neem. Enige dreigement van selfmoord moet baie ernstig opgeneem word.

Waarskuwingstekens:

  • Gemoedsverandering of langdurige hartseer en depressie.
  • Gevoel van wanhoop.
  • Onlangse trauma of groot lewensveranderinge en stressors.
  • Gevaarlike of roekelose gedrag.
  • Om oor die dood te praat en die behoefte om te sterf as die enigste uitweg te beskou.

Lize Wolmarans, ’n voorligtingsielkundige in Bloemfontein, sê ouers en onderwysers kan kinders bystaan deur op ’n nie-veroordelende manier te luister en nie vir hulle te preek nie. Moet ook nie hulle gevoelens afmaak as nie ernstig nie. Bied aan dat hulle met ’n professionele persoon praat en moet ook nie bang wees om te vra of hulle dit oorweeg om hulself seer te maak nie.

“Daar is ook faktore wat nie altyd maklik is om te sien nie,” sê sy.

“Vir matriekleerders wat nie geslaag het nie, voel dit dalk asof dit die einde van die wêreld is en dit kan uiters pynlik wees om te ervaar, veral as jy hard gewerk het om jou matrieksertifikaat te behaal. Jou gevoelens is geldig en verstaanbaar,” sê Wolmarans.

“Dit is normaal dat mense hartseer voel ná so iets. Praat met iemand wat jy vertrou oor hoe jy voel en wanneer jy gereed is, begin om die opsies te ondersoek wat tot jou beskikking is, met of sonder ’n matrieksertifikaat.”

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se webtuiste is https://www.sadag.org  Die tolvrye nommer is 08600 567 567 of stuur ’n SMS na 31393. Enigeen kan self bel of namens ’n geliefde bel. Opgeleide beraders sal die persoon na ondersteuningsgroepe en plaaslike beraders verwys.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.