Central SA
Naasbestaandes van George-rampslagoffers hou grootskaalse gedenkdiens─── 15:10 Tue, 21 May 2024

“Hierdie ramp sal nie net onthou word vir die geweldige en tragiese lewensverlies nie, maar ook vir die ongelooflike dapper en onbaatsugtige reddingswerk.“
Naasbestaandes van die George-rampslagoffers het Dinsdag (21/5) ’n gesamentlike gedenkdiens in die Lawaaikamp-gemeenskapsaal gehou. Vier-en-dertig mense het hul lewe verloor in die George-gebou se ineenstorting op Maandag 6 Mei.
Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement, sê nege beseerdes is steeds in die hospitaal.
Van die oorledenes is buitelandse burgers van onder meer Botswana, Zimbabwe, Lesotho en Mosambiek. Naledi Pandor, minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, sou na verwagting ook die diens bywoon.
’n Kranslegging sal Sondagoggend (26/5) om 09:30 gehou word ter nagedagtenis aan die slagoffers wat in die ineenstorting van die Victoriastraat-gebou gesterf het. Enigeen wat wil deelneem, word gevra om blomme en ’n kruisie saam te bring en in Yorkstraat byeen te kom. Van daar af sal die konvooi na die rampterrein in Victoriastraat beweeg.
Meer as ’n duisend reddingswerkers, ondersteuning en vrywilligers het gehelp met die reddingspoging en die verwydering van 6 000 t rommel.
Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Ontwikkeling, sê die ramp sal nie net onthou word vir die geweldige en tragiese lewensverlies nie, maar ook vir die ongelooflik dapper en onbaatsugtige werk wat deur die meer as ’n duisend mense gedoen is sedert die noodlottige dag.
Die Wes-Kaapse regering kyk opnuut na ander geboue ná die een se ineenstorting. Die regering is bekommerd oor die integriteit van strukture wat deur dieselfde ontwikkelaars van die George-woonstelblok gebou is. Die strukturele integriteit van geboue rondom die terrein sal ook heroorweeg moet word.
Die belangrikste vrae is nou wat die tragedie veroorsaak het, en wie aanspreeklik gehou sal word?
Die dodetal in die George-ramp het tot 34 gestyg nadat een van die bouers Vrydag in die hospitaal dood is.
OFM Nuus cg/mvh