On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Beweerde verkragtingsaak van onderwyser van Virginia uitgestel

───   HEIDRÈ MALGAS 08:00 Wed, 22 May 2024

Beweerde verkragtingsaak van onderwyser van Virginia uitgestel  | News Article
Die Hoërskool Hentie Cilliers in Virginia. Foto verskaf

“Die seksuele misbruik het na bewering op Maandag 25 Maart plaasgevind.”

Die onderwyser (27) van die Hoërskool Hentie Cilliers in Virginia wat aangekla word van die verkragting van ’n matriekseun het Dinsdag (21/5) in die landdroshof verskyn. “Die saak is vir verdere ondersoek tot 12 Junie uitgestel,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.

Die beweerde verkragting van die 17-jarige seun het nie op die skoolterrein plaasgevind nie. “Die seksuele misbruik het na bewering op Maandag 25 Maart plaasgevind,” sê Howard Ndaba, onderwyswoordvoerder. Die leerder het daarna geruime tyd van die skool af weggebly.

‘Onderwyser is Woensdag 10 April in hegtenis geneem’

Toe navraag gedoen is, het hy beweer dat hy deur die onderwyser afgeknou en seksueel misbruik is. “Die onderwyser is Woensdag 10 April in hegtenis geneem,” sê Ndaba.

Die departement, skoolbestuur en skoolbeheerraad werk saam om die feite van die saak te bevestig. Die departement het die skoolbestuur geloof vir hul vinnige optrede in die skorsing van die onderwyser. “Die leerder sal psigososiale ondersteuning kry en die skool het ekstra lesse gereël sodat hy die verlore werk kan inhaal,” sê Ndaba.

Die departement sal geen steen onaangeroer laat om enige vorm van seksuele misbruik in Vrystaatse skole uit te roei nie, belowe Ndaba.

‘Twee uit elke vyf seuns sê dat hulle verkrag is’

In ’n opname onder 1 200 skole landwyd het twee uit elke vyf seuns gesê dat hulle verkrag is. Mediese navorsers is dit eens dat een van die hoofredes vir die hoë voorkoms van MIV/vigs in Suid-Afrika die hoë verkragtingsyfers is. Die land het volgens die Mediese Navorsingsraad een van die hoogste voorkomste van kinder- en babaverkragting ter wêreld.

In ’n afsonderlike voorval word ’n 47-jarige laerskoolonderwyser in Noordwes daarvan beskuldig dat hy twee leerlinge verkrag het. Hy het hulle glo gevra om hom te help met die dra van boeke of om iets in sy kantoor te gaan haal, waar hy na bewering seksuele dade met hulle uitgevoer het, sê Amanda Funani, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Hy is op Donderdag (16/5) in Leeudoringstad in hegtenis geneem nadat die ma van die twee minderjariges, onderskeidelik twaalf en 14, en die skoolhoof Dinsdag (14/5) klagtes by die polisie aanhangig gemaak het. 

OFM Nuus/ Heidrè Malgas dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.