Central SA
Gewese burgemeester van Metsimaholo-munisipaliteit sterf─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:38 Wed, 22 May 2024
“Haar heengaan is ’n groot verlies vir ons gemeenskap en haar bydraes sal gemis word.”
’n Voormalige burgemeester van die Metsimaholo-munisipaliteit in die Vaaldriehoek is oorlede. Lindiwe Tshongwe het Dinsdag (21/5) gesterf nadat sy lank siek was. Ten tyde van haar dood het sy as proporsionele ANC-raadslid in die raad op Sasolburg gedien.
“’n Donker wolk hang oor Metsimaholo-munisipaliteit,” sê Gino Albert, munisipale woordvoerder. “Ons het een van ons mees toegewyde raadslede en gemeenskapsleiers verloor. Haar dood het ons ontneem van een van die helderste opkomende sterre wat toegewyd was tot die ontwikkeling van haar gemeenskap.”
Jack Malindi, burgemeester, sê hy is baie hartseer oor Tshongwe se afsterwe. “Dit het skokgolwe deur die hele Metsimaholo- en Fezile Dabi-distrik gestuur,” sê hy.

Lindiwe Tshongwe, voormalige uitvoerende burgemeester van die Metsimaholo-munisipaliteit. Foto verskaf
“Daar is nog baie van haar verwag. Die munisipaliteit het ’n standvastige, waaksame en toegewyde gemeenskapsaktivis verloor wie se lewensverhaal getuig van onbaatsugtige diens aan ander.”
Malindi het Tshongwe se onwrikbare toewyding geloof om haar gemeenskap met nederigheid en toewyding te dien. Haar lewenswerk en nalatenskap is ’n bewys van onbaatsugtige diens wat ’n beduidende invloed het op die lewe van diegene wat sy gedien het.
Malindi het sy medelye met Tshongwe se naasbestaandes, vriende en die ANC betuig. “Haar heengaan is ’n groot verlies vir ons gemeenskap en haar bydraes sal gemis word.”

Lindiwe Tshongwe. Foto verskaf
Tshongwe se toewyding aan haar gemeenskap en haar rol in plaaslike regering het haar ’n gerespekteerde persoon in die munisipaliteit gemaak.
