On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Parys-gevangenis: Vervoer kos belastingbetalers derduisende

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:41 Wed, 22 May 2024

Parys-gevangenis: Vervoer kos belastingbetalers derduisende | News Article
’n Nuwe gevangenis is begin met ’n begroting van R282 miljoen. Foto: Parys Gazette

“Gemiddelde R345 000 word per jaar ekstra betaal aan vervoer vir 35 werknemers van Korrektiewe Dienste.”

Die langdurige sluiting van die Parys-gevangenis jaag belastingbetalers jaarliks derduisende rande uit die sak.

Gemiddeld R345 000 word per jaar ekstra betaal aan vervoer vir 35 werknemers van Korrektiewe Dienste, sê George Michalakis, DA-LP en lid van die Gekose Komitee oor Veiligheid en Geregtigheid. “Hierdie werknemers moet daagliks na Sasolburg en Parys reis en die koste sluit nie die uitwerking op en beskikbaarheid van voertuie, of ure wat op die pad vermors word, in nie.”

Volgens geskrewe antwoorde op ’n DA-vraag, wat van die departement ontvang is, is die gevangenis op Sasolburg nou 53% oorvol weens die sluiting van die ou Parys-gevangenis, wat 310 gevangenes kon huisves.

George Michalakis. Foto: OFM Nuus

Michalakis sê die sluiting van die ou instelling, op dieselfde tyd wat die Departement van Openbare Werke ’n nuwe aangrensende fasiliteit bou, is onaanvaarbaar. ’n Nuwe gevangenis is begin met ’n begroting van R282 miljoen.

“Wat die DA meer bekommer, is tydens ’n onlangse oorsigbesoek deur die DA aan die nuwe fasiliteit, is bevind dat sedert Desember 2018 nie veel gedoen is deur die destydse kontrakteur NJR Projects (later G5 Group) van die tenderpreneur Edwin Sodi nie.”

Die kontrakteur het nie subkontrakteurs betaal nie en ’n nuwe kontrakteur, wat in Desember aangestel is, moes van die werk oordoen, beweer Michalakis. “Dit lyk of die nuwe kontrakteur goeie vordering maak, hoewel die projek in April verlede jaar voltooi moes gewees het.”

Die oorsigbesoek van die nuwe fasiliteit. Foto: Parys Gazette

Hy sê die DA gaan aan die Openbare Beskermer skryf oor die kontrak wat aan die G5-groep toegeken is. Sy party beplan ook ’n opvolgbesoek aan die Sasolburg-gevangenis om die gevolge van die projek se gebrek aan beplanning en wanbestuur te ondersoek.

“’n Regering wat ernstig is om ’n doeltreffende strafregstelsel daar te stel, sal verseker dat die voorwaardes vir voldoende rehabilitasie in plek is en dat die werknemers wat vir die administrasie van so ’n stelsel verantwoordelik is, regverdig behandel word.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.