Central SA
Menslike oorskot dalk vermiste matriekmeisie s’n─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:14 Wed, 22 May 2024
Gerugte het sedert Maandag (20/5) op sosiale media die rondte gedoen dat Tumahole oorlede is.
Menslike oorskot wat in Welkom gevind is, sal vir forensiese ondersoeke gestuur word om te bepaal of dit ’n vermiste matriekleerling s’n is.
Die mynreddingspan, Welkom se honde-eenheid en ’n polisie-ondersoekspan is Woensdag (22/5) omstreeks 08:00 na die Old Shaft-myn van Harmony, Welkom, ontbied, sê brig. Motantsi Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
VIDEO: SABC/Aphumelele Mdlalane
“Ná ’n deeglike ondersoek het die span verkoolde, menslike oorskot ondergronds gevind.”
Thato Tumahole is deur haar ma, Pulane, as vermis aangemeld nadat sy op 10 Mei omstreeks 18:00 nie huis toe gekom het nadat sy saam met twee maats gekuier het.
Sy was egter nie saam met hulle nie en was ook nie by haar kêrel nie. Hy het net ná haar verdwyning gesê dat hy haar op die betrokke dag omstreeks 13:30 laas gesien het.

Thato Tumahole. Foto: Facebook
Die kêrel is Donderdag, ses dae ná haar verdwyning, in hegtenis geneem. Weens die sensitiewe aard van die ondersoek word sy identiteit vir eers nie bekend gemaak nie.
Die verdagte het reeds Maandag in die Welkom-landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering. Hy sal na verwagting komende Maandag (27/5) weer voorkom om aansoek om borgtog te doen.
“Indien die oorskot dié van Thato is, kan die klag teen die verdagte na moord verander word,” sê Makhele.
VIDEO: SABC/Aphumelele Mdlalane
Gerugte het sedert Maandag die rondte op sosiale media gedoen dat Tumahole oorlede is.
“RIV, my liewe vriendin,” skryf Browns Hlehle, ’n vriend van die vermiste leerder. “Dit is met ’n swaar gemoed wat ek hierdie boodskap skryf. Die nuus van jou afsterwe het my geskok. Ek sukkel om dit te glo. Ek kan nie anders nie as om te dink aan die mooi herinneringe wat ons gedeel het en die vreugde wat ons in mekaar se lewe gebring het.”
Die Primêre Skool Harmony op Virginia het hul meegevoel met die naasbestaandes betuig, veral met haar ma, Pulane.
