Central SA
Vermeende baasbrein van veediefstal in Noordwes weer aangekeer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:11 Wed, 22 May 2024
“Boere in die omgewing word al langer as ’n dekade deur ’n veediefstalsindikaat geteister.”
Die vermeende baasbrein van ’n berugte veediefstalsindikaat is weer in hegtenis geneem weens veediefstal.
“Cliffton Keobokile (Rasta) Kenosi (38), het Maandag (20/5) in die Ganyesa-landdroshof in Noordwes verskyn,” sê Adéle Myburg, polisiewoordvoerder. Nog drie verdagtes is steeds soek.
Kenosi is Vrydag (17/5) aangekeer op aanklagte wat verband hou met die beweerde vergiftiging van Ockert Goosen se beeste in die Bray-omgewing. Boere in die omgewing word al langer as ’n dekade deur ’n veediefstalsindikaat geteister.

Cliffton Keobokile (Rasta) Kenosi. Foto: Facebook
OFM Nuus het vroeër berig nadat Goosen se kalwers gesteel is, wou hy en sy pa ’n klag by die Bray-polisiekantoor indien, maar die beamptes aan diens het glo geweier. Eers toe die klaers gedreig het om ’n video te neem, is daar gehoor gegee.
Die vermeende sindikaatleier het daarna Goosen se pa gekontak en gedreig om sy seun se beeste te steel en te vergiftig. Dié man is aan die gemeenskap bekend en is al talle kere op beeldmateriaal vasgelê.
‘Hy was geskok toe hy op sy beeste afkom’
Nie lank daarna is 44 beeste, waaronder elf kalwers en 33 koeie met 25 kalfies wat wees gelaat is, in November 2023 vergiftig.
Foto’s van dié beeskarkasse is op sosiale media versprei nadat gif in die beeste se waterkrip gegooi is. Goosen het net ná die voorval gesê hy was tot in sy wese geskok toe hy op sy beeste afkom. “Ek is baie lief vir my diere en het ’n passie vir my boerdery, wat die grootste motivering van my lewe is.”

Cliffton Keobokile (Rasta) Kenosi is die vermeende baasbrein. Foto: Facebook
Kenosi was sedert verlede jaar meermale in die hof op aanklagte wat verband hou met veediefstal, opsetlike saakbeskadiging en poging tot moord. Hy is al voorheen op borgtog vir dié aanklagte vrygelaat.
Kenosi bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op 27 Mei.
OFM Nuus dg
