Central SA
Skare vermoor vermeende rower by Mangaung-stortingsterrein─── 09:54 Thu, 23 May 2024
“Met aankoms het die polisie ’n man aangetref wat aan die kant van die pad gelê het met diep snywonde en steekwonde aan sy kop en bolyf.”
’n Man van in die 30 is deur ’n woedende skare herwinners op die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein om die lewe gebring.
Die voorval het Woensdag (22/5) plaasgevind ná ’n rooftog naby die terrein, wat gelei het tot ’n gewelddadige agtervolging en noodlottige aanranding op een van die vermeende verdagtes.
Lede van Bloemfontein se blitspatrollie en verskeie private veiligheidsreaksiespanne het omstreeks 13:00 gereageer op berigte van ’n skietvoorval in Geelhoutrylaan in Lourierpark, sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Met hul aankoms het die polisie ’n man aangetref wat langs die pad gelê het, met diep snywonde en steekwonde aan sy kop en bolyf. Paramedici het die man op die toneel dood verklaar.
Covane sê die polisie is ingelig dat die gebeure begin het toe ’n herwinner (67) naby die suidelike stortingsterrein met ’n vuurwapen beroof is deur drie onbekende mans. Die slagoffer, ’n gesertifiseerde skrootmetaal-herwinner, bedryf ’n kleinerige onderneming naby die stortingsterrein waar hy herwinbare materiaal van plaaslike herwinners aankoop.
Die sakeman het vir verkopers gewag toe die verdagtes, met klapmusse aan, nader kom en hom van sy kontant beroof. Herwinners op die stortingsterrein wat die rooftog aanskou het, het die verdagtes agternagesit en daarin geslaag om een van hulle vas te trek. Dié verdagte is toe deur die skare aangerand, wat tot sy dood gelei het. Die twee ander verdagtes wat by die rooftog betrokke was, bly op vrye voet.
Twee afsonderlike sake is in verband met die voorval geopen: een van roof met ’n vuurwapen, by die Kagisanong-polisiekantoor, en nog een van moord by die Parkweg-polisiekantoor. Wetstoepassers soek aktief inligting van die publiek om te help met hul ondersoeke.
Van die ongekende 27 000 aangetekende moorde in Suid-Afrika in 2022 kon minstens 1 894 – of 7% – toegeskryf word aan gepeupelreg, meer as dubbel die getal van vyf jaar tevore. In die eerste nege maande van 2023 is nog 1 472 gepeupelregsterftes aangemeld, berig Polity.
Covane het enigiemand met inligting wat in die ondersoek kan help, versoek om na vore te kom.
OFM Nuus cg


