Central SA
Vrou van Sentraal-Suid-Afrika spog met liggaamsboutitel─── KAREN VAN DER BERG 09:46 Fri, 24 May 2024
“Nou is sy die sterkste vrou ter wêreld in die liggewigafdeling (75 kg).”
Sy is amptelik die sterkste vrou ter wêreld in haar kategorie en sy is van Sentraal-Suid-Afrika. Brendali Theron (33), wat op Vanderbijlpark grootgeword en gematrikuleer het, sê haar liefde vir liggaamsbou het begin toe sy as student haar ligamente geskeur het en haar netballoopbaan vaarwel moes toeroep.
Sy het besluit om ’n nuwe uitdaging in die vorm van kragoefening en liggaamsbou aan te durf. Nou is sy die sterkste vrou ter wêreld in die liggewigafdeling (75 kg) – ’n dié titel wat sy onlangs in Dubai verower het.

Brendali Theron en Robin du Toit, haar afrigter. Foto verskaf
Brendali woon die afgelope ses jaar in Dubai. Sy sê die titel is die spreekwoordelike kersie op die koek ná twaalf jaar se harde werk as atleet. Die kampioenskap het uit twee fases bestaan. Brendali moes in al die fases verskillende gewigte oor verskillende afstande dra en optel.
“Toe ek die sterkste atleet van Rusland verby vat was dit ’n wonderlike oomblik. Dit is iets wat vir my uitstaan en wat ek altyd sal onthou.” Om ’n topatleet op die vlak te wees, verg baie opofferings en harde werk.

Brendali Theron hou daarvan om nuwe uitdagings aan te pak. Foto verskaf
Brendali sê haar voorbereiding vir kompetisies verskil van mekaar. “Ek oefen Maandae tot Vrydae min of meer vir drie uur. Maar ’n mens se slaaproetine en eetplan is ook baie belangrik en moet uitgewerk word.”
Haar week bestaan ook uit rehabilitasiesessies by die fisioterapeut en sy maak tyd vir geestelike voorbereiding. Sy wil graag aan nog kompetisies deelneem.
Brendali sê sy het nog nooit getwyfel of sy die regte besluit geneem het om met liggaamsbou te begin nie. “Ek het miskien laat begin, maar alles in ’n mens se lewe gebeur soos dit moet. En dit help om mens te vorm en te maak wie jy is. Dié wete gee ’n mens weer krag en motivering.”

Brendali Theron sê haar voorbereiding vir kompetisies is verskillend. Foto verskaf
Sy sê haar sportsoort is nie ’n individuele sport nie want ’n hele span mense lei en inspireer haar. Hulle skryf almal saam aan haar lewensverhaal.
