On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with James
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstroom-lugskou beloof opwindende vertonings

───   HEIDRÈ MALGAS 10:52 Sun, 26 May 2024

Potchefstroom-lugskou beloof opwindende vertonings | News Article
Die vorige lugskou is in Virginia gehou. Foto verskaf

“Potch het baie jare gelede ’n lugskou gehad. Dit sal die eerste lugskou in ongeveer tien jaar wees.”

Die Potchefstroom-lugskou is gereed om op te styg op Saterdag 1 Junie 2024 van 10:00 tot 16:00 by die Potchefstroom Vliegveld. Die Potch Girls Majorettes gaan die vertoning open.

Besoekers kan uitsien na ’n groot verskeidenheid, insluitend grootskaalse radiobeheerde vliegtuie, helikopters, Tweede Wêreldoorlog-vliegtuie en moderne hoëprestasie-akrobatiese vliegtuie, girokopters en ligte sportvliegtuie, sê Sally Fleck, lugskou-organiseerder.

Sy deel dat dit ’n volgepakte program is met talle lugvertonings en toertjies, soos die demonstrasiesprong deur ’n valskermspringer, formasie-, solo- en kompetisie-akrobatika, sowel as helikoptervertonings en ’n lugbespuitingsdemonstrasie.

‘Daar sal ’n paar spesiale ou oorlogsvliegtuie wees’

“Die program gaan Suid-Afrika se top formasie-akrobatiese spanne en vertoningsvlieëniers [ten toon stel],” sê Fleck.

Sy voeg by dat daar ’n paar spesiale ou oorlogsvliegtuie sal wees soos die P51 Mustang genaamd 'Mustang Sally', die Puma Flying Lions wat uit drie Harvards bestaan wat tydens die Tweede Wêreldoorlog as opleidingsvliegtuie gebruik is, en die Beechcraft Model 18-vliegtuig, wat oorspronkik in 1937 gebou is en ook in die Tweede Wêreldoorlog gebruik is.

Besoekers kan ook die Smoke on… Go! se gazebo besoek om die vlieëniers te ontmoet en hul Smoke on… Go!-lugskouboek te laat teken. “Daar sal ’n markplein, kosgedeelte, uitstallings asook ’n bier- en brandewyntent wees,” het Fleck bygevoeg.

‘Eerste lugskou in ongeveer tien jaar’

“Potch het baie jare gelede ’n lugskou gehad. Dit sal die eerste lugskou in ongeveer tien jaar wees, georganiseer deur die stigting Smoke on… Go! Ons hoop dat dit 'n gereelde kenmerk op die lugskoukalender sal wees sodat Potch en omliggende dorpe en gemeenskappe dit kan geniet.”

Wêreldberoemde Suid-Afrikaanse vlieëniers sal ook daar wees, dit sluit in Menno Parsons in “Mustang Sally,” Scully Levin wat die Puma Flying Lions lei, Jason Beamish wat die Goodyear Eagles akrobatiese span lei, en Flippie Vermeulen in sy ou Beech 18-vliegtuig.

Kaartjiepryse

  • Volwassenes: R120 
  • Studente: R100 
  • Kinders tussen twee en 17: R80
  • Kinders onder twee: Gratis

Kaartjies kan aanlyn by www.ticketpro.co.za, by geselekteerde Spar-winkels landwyd, óf by die hek gekoop word. Hekke open om 08:00.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.