On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Polisiewaghond ondersoek weer polisiebeamptes in Noordwes

───   ZENANDE MPAME 16:03 Mon, 27 May 2024

Polisiewaghond ondersoek weer polisiebeamptes in Noordwes | News Article
Polisiewaghond ondersoek weer polisiebeamptes in Noordwes. Foto: SAPS

“Die polisiebestuur was bekommerd nadat bewerings van die beweerde aanranding na vore gekom het.”

Dis nog nie eens Junie nie en die Noordwes-polisie word vir die tweede vanjaar ondersoek, dié keer ná ’n aantyging dat hulle leerders van ’n skool by Rustenburg aangerand het.

Twee aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer is aanhangig gemaak. Die polisie se onafhanklike klagtedirektoraat (Opod) het bevestig hy ondersoek die saak.

Die polisie het Maandag (13/5) ’n bewusmakingsessie saam met ander belanghebbendes aangebied oor veiliger skole by die Senior Sekondêre Skool Rakoko op die nedersetting Mabeskraal aan die buitewyke van Rustenburg.

Leerders van die skool is na bewering deur die polisie aangerand. Foto: SABC

Leerders sê die polisie was op soek na onwettige middels, maar het niks gevind nie. Daarna is verskeie leerders na ’n aparte klaskamer geneem waar hulle na bewering aangerand is.

“Ons kan bevestig dat die polisiebestuur in die provinsie bewus is en met kommer kennis geneem het van bewerings dat polisiebeamptes leerders by ’n skool aangerand het,” sê Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.

“Die polisiebestuur duld nie onprofessionele optrede deur sy lede nie en wil die publiek versoek om geduld aan die dag te lê en ondersoeke te laat ontvou.”

‘Albei sake is by Opod aangemeld en word nog ondersoek’

Intussen sê Phaladi Shuping, Opod-woordvoerder, hulle kan ondersoeke bevestig na twee sake, albei in Noordwes. “In die eerste geval word beweer dat die polisie op Maandag 25 Maart op die verkeerde persoon geskiet het.

“In die tweede saak word beweer dat die polisie leerders aangerand het tydens die veiligerskoleprogram. Albei sake is by Opod aangemeld en die saak word nog ondersoek deur ons Bojanala-kantoor.”

SABC News berig volgens die ouers het hul kinders gesê ’n groep leerders is na ’n saal geneem waar hulle na bewering deur die polisie geslaan en geskop is.

“Hulle het hom met belde geslaan, hulle het hom geklap en geskop totdat hy nie gesond was nie. Op daardie Maandag het ek hom selfs hospitaal toe geneem,” het een van die ouers gesê.

Verdagte in Brits-tieners se ontvoeringsaak word staatsgetuie

Daar is steeds ’n ondersoek na die Noordwes-polisie, nadat hulle op ’n man geskiet het, hom toegesluit en aangerand het, omdat hulle vermoed het dat hy betrokke was by die saak van twee ontvoerde Brits-tieners die nag van Maandag 25 Maart.

News24 berig Jacob Mokete het gesê, nadat die polisie op hom geskiet het, hom aangerand en hom etlike ure lank toegesluit het, het die polisie verskoning gevra en hom laat gaan.

Nadat die polisie hul fout besef het, is ’n verskoning aan Mokete gerig, wat dieselfde dag vrygelaat is. “Die Brits-saak word nog deur die nasionale kantoor in Pretoria ondersoek,” sê Shuping.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.