Central SA
#OFMElectionWatch: Min spesiale kiesers trek kruisies in Diamantstad─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:17 Tue, 28 May 2024
“Ten spyte van ’n paar gevalle waar stembriewe laat afgelewer is, wat vertragings in die opening van sommige stemlokale veroorsaak het, het almal uiteindelik die kans gehad om hul kruisies te trek.”
Die atmosfeer in Kimberley is rustig, waar kiesers wat geregistreer het vir spesiale stemme, Maandag (27/5) en Dinsdag die geleentheid gehad het om te stem vir die partye wat hulle meen die land en die Noord-Kaap die volgende vyf jaar moet regeer.
Altesaam 1 668 076 Suid-Afrikaners se aansoeke om spesiale stemme uit te bring, is goedgekeur ná die sluitingsdatum op 3 Mei.
In die Noord-Kaap het altesaam 655 284 mense geregistreer om te stem van wie 83 504 mense geregistreer het vir spesiale stemme. Dié provinsie se kiesers maak net 2,3% van die land se totaal uit, tien keer minder as Gauteng, wat die meeste kiesers het.
Stemlokale in Kimberley is Dinsdag baie stiller as Maandag. Dit is ook vandag die laaste dag waarop mense kan stem wat aansoek gedoen het om spesiale stemme uit te bring.
Landwyd het die stemmery egter ’n paar uitdagings opgelewer. Uit die 23 292 stemlokale was moes oopmaak, het 107 nie oopgemaak nie.
Daar is 521 stemlokale in die Noord-Kaap, wat amper ’n derde van SA se oppervlak beslaan, maar 209 het nie oopgemaak nie, omdat niemand vir spesiale stemme by dié plekke geregistreer was nie.
Ten spyte van ’n paar gevalle waar stembriewe laat afgelewer is, wat vertragings in die opening van sommige stemlokale veroorsaak het, het almal uiteindelik die kans gehad om hul kruisies te trek.
Volgens Masego Sheburi, uitvoerende adjunkhoof van die OVK, het 230 000 mense Maandag landwyd gestem.

Sedert die einde van apartheid 30 jaar gelede in 1994 was die ANC die dominante party in die Noord-Kaap.
In 2019 het die regerende party 64,40% van die stemme gekry.
Van Woensdag af sal daar 730 stemlokale in die Noord-Kaap oop wees vir geregistreerde kiesers, waarvan 72 in Kimberley, die hoofstad, sal wees.
Spesiale stemgeregtigdes kan nog tot Dinsdag om 17:00 hul stem uitbring. Kiesers wat nie Maandag en Dinsdag gestem het nie, kan Woensdag stem.
Stemlokale sal van 07:00 tot 21:00 oop wees.
