On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

#OFMElectionWatch: Orania-kiesers honger vir verandering

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 16:29 Wed, 29 May 2024

#OFMElectionWatch: Orania-kiesers honger vir verandering | News Article
Noord-Kaapse VF Plus-leier, dr. Wynand Boshoff, trek sy kruisies in Orania. Foto verskaf

“As ’n mens nie vertroue in jou eie stem en die invloed van jou eie stem het nie, dan raak die demokrasie ’n slegte plek.”

Meer as 50% van die geregistreerde kiesers op Orania in die Noord-Kaap het teen middagete gestem.

“Die feit dat kiesers moeite doen om op te daag,” sê Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus-leier, “wys hulle is honger vir verandering en op soek na iets nuuts. As ’n mens nie vertroue in jou eie stem en die invloed van jou eie stem het nie, dan raak die demokrasie ’n slegte plek.”

‘Ons grootste bekommernis is hoe om die afstande te hanteer’

Volgens Boshoff is die Noord-Kaap ’n buitengewone provinsie en die een provinsie waar afstande ’n enorme uitdaging is. “Ons grootste bekommernis hiér is hoe om die afstande te hanteer, eerder as hoe om ons groot bevolking te hanteer.

“Ongelukkig bereken die staat ’n provinsie se billike aandeel van die nasionale begroting, in terme van die getal mense wat daar woon, wat sleg is vir die Noord-Kaap, want dis nie ons uitdaging nie.”

Noord-Kaapse VF Plus-leier, dr. Wynand Boshoff ,trek sy kruisies in Orania. Foto verskaf

Die Noord-Kaap moet die uitdaging die hoof bied om dienste tot by die mense op elke ver afgeleë dorpe te kry. Dis ook die enigste provinsie waar Afrikaans deur meer as die helfte van die inwoners gepraat word en ook as hul huistaal beskou word.

“In die noorde van die provinsie, soos die John Taolo Gaetsewe- en Francis Baard-distriksmunisipaliteit, wat ongeveer 10% in die noorde van die provinsie beslaan, praat meer as 70% van die inwoners Afrikaans,” sê Boshoff. 

“Dit beteken dat om die ANC se mislukte beleid van demografiese verteenwoordiging in die Noord-Kaap toe te pas, dubbeld onbillik is.”

‘Minderbevoorregtes word die kans ontneem om hul plek vol te staan’

Volgens die ou kategorieë, bestaan die nasionale bevolking uit minstens 85% swart, 7% elk wit en bruin, en sowat 2% Indiër. “Om dit in die provinsie toe te pas, ontneem die minderbevoorregte mense van die Noord-Kaap eenvoudig die geleentheid om werk te doen en om hulle plek vol te staan.”

Boshoff sê dit is alles faktore wat sentraal staan in die Vryheidsfront se benadering wat neerkom op gelyke geleenthede, maar ’n sterk ekonomie vir die hele land, ook vir die Noord-Kaap, gegrond op ’n vrye mark stelsel.


“Wat krities belangrik is, is die erkenning van Suid-Afrika as ’n land met verskillende kulture. ’n Multinasionale staat in meer akademiese terme. Die ANC het ’n ideologie van Afrikanasionalisme, wat eintlik poog om ’n Engelstalige swart Suid-Afrikaanse nasie tot stand te bring. Daar’s nie ’n taal soos Suid-Afrikaans nie. 

“Die hele poging is kunsmatig en dis heeltyd aan spanning onderworpe. Dit laat ook groepe wat uitgesluit word en wat op die kantlyn geplaas word, juis vervreemd voel.”

’n Beleid wat mense erken en wat die kulturele verskeidenheid erken, kan ’n teenoorgestelde uitwerking hê om mense te verbind en ook die nasionale integriteit van die staat te beskerm, meen Boshoff.

‘Maak ’n verskil ter wille van die toekoms van die land’

Wilhelm Reicher, provinsiale organiseerder in die Noord Kaap vir die VF Plus, doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om ’n kruisie te trek en ’n verskil te maak ter wille van die toekoms van die land.

“Ons plant vandag bome onder wie se skaduwee ons nie gaan sit nie, maar ons kinders en hulle kinders gaan in die koelte sit van daardie bome. Vandag is die dag wat ons die toekoms van hierdie land kan verander.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.