Central SA
#OFMElectionWatch: Noord-Kaapse stemme word Donderdag klaar getel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:03 Thu, 30 May 2024

“Meer as die helfte van die stemdistrikte het die telproses voltooi.”
Die sewende nasionale verkiesing sedert 1994 is Woensdag (29/5) kort ná 21:30 afgehandel.
Die tellery het om 22:00 in die OVK-sentrum in Kimberley begin en sal na verwagting nog tot vroegaand voortduur, sê Elkin Topkin van die OVK in die Noord-Kaap.
‘Ons verwag die finale uitslae teen 18:00 vanaand’
“Meer as die helfte van die stemdistrikte het die telproses voltooi. Ons verwag die finale uitslae teen 18:00 vanaand, wat ons in staat stel om ’n provinsiale wetgewer saam te stel.”
Topkin sê geen onoorkombare probleme is by die stemlokale aangemeld nie. “Alles het goed gegaan, en ons is dankbaar dat daar geen ernstige probleme was nie.”
Nasionaal loop die ANC voor, maar net 15% van stemme is getel. Die ANC is sedert 1994 die regerende party.
André Duvenhage, NWU-dosent en politieke ontleder, het vroeër gesê vanjaar se nasionale verkiesingsuitslae sou besonder uitdagend wees om te voorspel. As die ANC nie meer as 50% van die stemme kan kry nie, sal samesprekings oor ’n koalisie volg, hoewel die DA in ’n verklaring gesê het dat hulle nie ’n koalisie met die ANC sal vorm nie.
Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, het Woensdag by die NJ Heyns-skool in Kimberley gestem.
Wynand Boshoff, provinsiale VF Plus-leier, het op Orania gestem, en Izak Fritz, DA-premierskandidaat, het sy kruisies by Vooruitsig Primêr in Kimberley getrek.
Harold McGluwa, provinsiale leier van die DA, het by die Laerskool Eureka gestem en Shadrack Thlaole, die EFF se provinsiale voorsitter, op Sishen.