Central SA
#OFMElectionWatch: Noord-Kaapse DA bly optimisties tydens tellery – VIDEO’S─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:50 Thu, 30 May 2024
“Ons het baie goed gevaar in die provinsie met ons veldtogte. Ons het baie plekke in die Noord-Kaap bereik en ons glo dat ons ’n goeie persentasie sal behaal.”
Teen Donderdagmiddag was die regerende party steeds boaan die Noord-Kaapse telbord van die 2024-verkiesing nadat 17,54% stemme getel is.
Die DA lê tweede met die PA en EFF kop-aan-kop. Die ANC het sover 89 300 stemme in die provinsie, 713 842 nasionaal en 89 435 in die streek.
Die DA het sover 48 583 in die provinsie, 432 859 nasionaal en 49 232 in die streek. Die PA het 19 510 in die provinsie en die EFF 19 588.
Volgens Harold McGluwa, provinsiale DA-leier, het die nasionale en provinsiale verkiesing goed verloop. “Mense was positief, die gees was goed. Die mense wil graag vir ’n party van hul keuse stem.”
Hy beklemtoon egter sommige stemlokale het probleme ervaar, soos stemlokale wat laat oopgemaak het en kiesers wat weggewys is omdat hulle nie op die kieserslys was nie.
McGluwa noem hoewel die telproses nog in ’n vroeë stadium is, is die DA optimisties. “Ons het baie goed gevaar binne die provinsie met ons veldtogte. Ons het baie plekke in die Noord-Kaap bereik en ons glo dat ons ’n goeie persentasie sal behaal.
“Tans, met die uitslae wat beskikbaar is, staan ons op 29% van die stemme in die Noord-Kaap. Ons wil nie oor die finale uitslae bespiegel nie, maar ons glo dat ons meer as 30% kan haal.”
Hy het ook voortdurende kwessies in die Noord-Kaap uitgelig, soos korrupsie, wat aangespreek moet word. “Die wanbestuur van belastingbetalersgeld moet end kry. Ons moet die gesondheidsorg en onderwysstelsels opknap.
“Die dienslewering in ons munisipaliteite is baie swak. Ons moet goeie dienslewering aan ons mense in die Noord-Kaap lewer.
“Boonop moet infrastruktuur reggemaak word en werkskeppingsgeleenthede vir ons mense moet vergroot word.”
