Central SA
Beeldskone Vrystater is Mej. Tiener – VIDEO─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:30 Fri, 31 May 2024
“Die finale besluit is geneem deur ’n paneel van beoordelaars én die publiek se stemme.”
’n Matrikulant van die Oos-Vrystaat is onlangs as Mej. Tiener aangewys en pronk ook op die voorblad van Huisgenoot se 30 Mei-uitgawe.
Carli Oosthuizen (17), ’n leerder aan die Hoërskool Voortrekker op Bethlehem, is op 10 Mei uit honderde inskrywings as die wenner aangewys.
Hierdie kompetisie is vir die eerste keer op 1 September 1961 bekendgestel as Mejuffrou Tienderjarige, ’n paar jaar voor ’n teksversorger by Sarie die woord “tiener” uitgedink het. Die eerste wenner was ’n pastoriedogter, Susan Malan, wie se pa predikant was van die Gereformeerde Kerk Linden in Johannesburg.

Carli Oosthuizen. Foto verskaf
Meisies tussen die ouderdomme van 13 en 18 kon aan die kompetisie deelneem en moes ’n video met ’n kort motivering oor die redes waarom hulle Mej. Tiener 2024 moet wees. Die top-30 is op 22 Maart aangekondig en die toptien op 4 April.
Die finale besluit is geneem deur ’n beoordelaarspaneel sowel as die publiek se stemme.
“Ek was uit die veld geslaan toe ek die oproep kry,” sê Carli. “Ek het dit glad nie verwag nie. Dit het vir ’n oomblik gevoel of die wêreld tot stilstand gekom het.
“Almal hoop natuurlik om te wen wanneer hulle inskryf, maar die ander finaliste se inskrywingsvideo’s was briljant. Ek voel ongelooflik dankbaar en geseënd om soveel ondersteuning te hê.”

Carli Oosthuizen. Foto verskaf
Die nuus moes egter ’n rukkie lank geheim gehou word, maar Carli kon die groot nuus deel met haar ma, Anjé, wat saam met haar was toe hulle bel terwyl sy op pad was na ’n hokkie-oefening. Later het sy die geheim met haar pa, Wernard, gedeel.
Carli het die nuus eers aan haar jonger broer, Bruwér (11), bekend gemaak toe Huisgenoot by die gesin op Senekal kom kuier het, aangesien hy die een was wat haar inskrywingsvideo geneem het.
Carli hoop om ander tieners te inspireer en beplan om werk te maak van verskeie uitdagings waarmee tieners sukkel op sosiale media. “Wees altyd jouself, benut elke geleentheid ten volle en geniet elke oomblik!” is haar raad.

Carli Oosthuizen. Foto verskaf
Carli dra ook die Mej. Voortrekker-kroon. Sy is kaptein van haar skool se eerste hokkiespan en presteer akademies.
Carli wen ’n vakansie na Mauritius, geborg deur World Leisure Holiday.
Sy wen ook ’n pryspakket van Tapputti Egyptian Perfume Oils, wat bestaan uit luukse parfuumolies in die mooiste botteltjies, drasakke en notaboeke. Mej. Tiener kan ook genooi word om as model in bemarkingsmateriaal vir dié handelsmerk te verskyn.

Carli Oosthuizen. Foto verskaf
Carli beplan om volgende jaar sielkunde aan die NWU in Potchefstroom te studeer.
