Central SA
Lichtenburg: Munisipaliteit in hof weens onwettige kragonderbrekings─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:57 Fri, 31 May 2024
"Ondernemings in Lichtenburg, ’n plaaslike dienstevereniging en Sakeliga is in die hof teen die plaaslike munisipaliteit."
Ondernemings in Lichtenburg, ’n plaaslike dienstevereniging en Sakeliga het die plaaslike munisipaliteit hof toe gesleep.
’n Dringende hofaansoek is Saterdag (25/5) teen die Ditsobotla-munisipaliteit gebring oor onwettige kragonderbrekings. Die hofstukke is Maandag geliasseer en die aansoek word Vrydag in die hooggeregshof in Mahikeng aangehoor.
“Die partye dring aan dat die munisipaliteit hulle van geldige rekeninge en fakture voorsien en nie hulle krag afskakel, terwyl daar ’n geldige dispuut is met die munisipaliteit nie,” sê Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof. “Ons vra ook dat die hof die munisipaliteit dwing om sy onwettige kragonderbrekings teen lede van die Ditsobotla-dienstevereniging (DDV) te staak.”

Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof. Foto verskaf
Hy sê die munisipaliteit het twee weke gelede skielik besluit om tot R750 000 elk se munisipale skuld by etlike lede van die DDV te eis, al het die partye almal ‘n geldige dispuut met die munisipaliteit verklaar. “As ’n invorderingsmeganisme het die munisipaliteit nou sommige lede se krag afgesny, terwyl andere met onderbrekings gedreig word. Dit is onwettig.
“Ingevolge art. 102 van die Wet op Munisipale Stelsels mag ’n munisipaliteit nie dienste onderbreek aan partye wat ’n geldige dispuut aanhangig gemaak het nie, totdat die dispuut afgehandel is,” sê Le Roux.
‘Al jare lank geen rekeninge ontvang nie’
Die partye se dispuut het begin nadat hulle nou al jare lank geen rekeninge ontvang nie, of andersins geen behoorlike rekeninge wat uiteensit hoe bedrae bereken is nie.

Die Sakeliga is ’n applikant in die saak. Foto verskaf
Sakeliga doen hierdie stappe met ondersteuning van die DDV en sy geaffekteerde lede as medeapplikante.
“Ons doen dit as deel van die groter regstrategie waarmee Sakeliga in Ditsobotla besig is, naamlik om regspraak te ontwikkel en modelle te ondersteun wat behoorlike ingryping en alternatiewe oplossings tot munisipale verval bied,” sê Le Roux.
“’n Belangrike aspek hiervan is om ondernemings se reg op munisipale dispute te handhaaf, sodat munisipaliteite nie arbitrêr geld kan bly hef vir onbehoorlik verrekende dienste wat dikwels nie eens gelewer word nie.“
Die munisipaliteit het nog nie op OFM Nuus se navrae reageer nie.
OFM Nuus dg
