Central SA
SANBS vier Wêreldbloedskenkerdag─── CASEY-LEE ANTHONY 11:51 Mon, 03 Jun 2024
“SANBS poog om bewustheid te verhoog oor die noodsaaklike rol wat bloedskenkers speel in die handhawing van die gesondheid van individue en gemeenskappe.”
Wêreldbloedskenkerdag is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie begin om mense bewus te maak van die behoefte aan veilige bloed en bloedprodukte, asook om vrywillige, onbetaalde bloedskenkers te bedank.
Op Vrydag 14 Junie van 09:00 tot 16:00 stop die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) as deel van hul “We Are The Pulse”-skenkersveldtog in Klerksdorp, Vyfhoek en Orkney. Op Saterdag 15 Junie is hulle in Vanderbijlpark. Hulle mikpunt is 100 eenhede bloed elke dag.
SANBS poog om bewustheid te verhoog oor die noodsaaklike rol wat bloedskenkers speel in die handhawing van die gesondheid van individue en gemeenskappe. Hierdie spesifieke skenkersprojek dien ook as ’n oproep tot aksie vir meer individue om gereeld bloed te skenk om lewens te help red.
SANBS vra mense om bloed te kom skenk. Foto: verskaf
“Elke jaar benodig duisende Suid-Afrikaners bloedoortappings in operasies, noodgevalle en vir chroniese mediese toestande. Wêreldbloedskenkersdag staan as ’n baken van hoop en eenheid wat ons herinner aan die invloed wat individuele vrygewigheid op die gesondheid kan hê.
“Ons beskou hierdie dag nie net as ’n geleentheid om te vier nie, maar as ’n oproep tot aksie van helde wat die polsslag van ons nasie aanmoedig,” sê Thandi Mosupye, kommunikasiebestuurder van die SANBS.

Om bloed te skenk neem net 30 minute van jou tyd. Foto: Pixabay
Bloedskenking kan tot drie lewens red en duur net ’n halfuur. Vir meer inligting oor Wêreldbloedskenkerdag of hoe om bloed te skenk, besoek www.sanbs.org.za of bel SANBS se tolvrye nommer 0800 11 9031.
Enigeen van 16 tot 75 jaar kan bloed skenk as hulle meer as 50 kg weeg en gesond is.
OFM Nuus/Casey-Lee Anthony dg
