On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Derde brand lê Lichtenburg se stadsaal in puin

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:22 Mon, 03 Jun 2024

Derde brand lê Lichtenburg se stadsaal in puin | News Article
Foto: Facebook

“Die hartseer en frustrasie spruit uit die munisipaliteit se oënskynlike gebrek aan simpatie in sulke voorvalle.”

Ná ’n derde brand binne ’n jaar is die Lichtenburg-stadsaal finaal vernietig. “ 

’n Brand het Saterdag (1/6) in die vroeë oggendure in die stadsaal ontstaan en die polisie ondersoek ’n saak van brandstigting,” sê kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes. “Hoewel niemand nog vir die brand in hegtenis geneem is nie, is vier verdagtes aangekeer in verband met van die vorige brande.”

Saterdag se brand het groot skade aangerig. Foto: Facebook

Die Ampie Bosman- kultuurhistoriese museum in Lichtenburg het in Oktober afgebrand toe ’n deel van die stadsaal ook in die slag gebly het. Die museum het uitstallings oor die stigting van Lichtenburg in 1873, sy ryk diamantgeskiedenis, genl. Koos de la Rey en die beleg van Lichtenburg in die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) gehuisves. Die ossewa van De la Rey se vrou, Nonnie, was ook deel van die uitstalling gewees.

“Die oorsaak van die brand en die omvang van die skade is nog onbekend,” sê Pius Batsile, woordvoerder van die Ditsobotla-munisipaliteit.

In die stadium kan brandstigting nie uitgesluit word nie. Foto: Facebook

“Dis vermoedelik begin deur hawelose mense wat in die gebou gebly en ’n vuur gemaak het, wat toe buite beheer geraak het,” sê Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri Noordwes. “Wat skokkend is, is dat daar geen brandweer was nie. Geen alarm is gemaak nie. Groot besighede wat altyd met brandbestryding in die dorp help, is nie in kennis gestel nie.”

Pienaar sê dit het onlangs aan die lig gekom dat nie die museum of die stadsaal verseker is nie, omdat die munisipaliteit versuim het om betalings te maak.

Saterdag se brand is die derde brand die afgelope jaar. Foto: Facebook

Die hartseer en frustrasie spruit uit die munisipaliteit se oënskynlike gebrek aan simpatie in sulke voorvalle. “Nadat die museum afgebrand het, het die munisipaliteit nie toegelaat dat mense items uit die museum kom haal om dit te probeer restoureer nie. Almal is weggewys,” sê Pienaar. 

“Die grootste probleem is ’n mens kan met niemand op die dorp sit en kwessies soos die of water en krag bespreek nie. Daar is niemand wat ons frustrasies verstaan en wil help nie. Alles gaan ongesiens verby.”

OFM Nuus dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.