Central SA
Vermeende Bloemfonteinse transito-rowers in hof─── HEIDRÈ MALGAS 15:46 Mon, 03 Jun 2024
“Danksy die polisie se harde werk is ’n intelligensiegedrewe operasie van stapel gestuur en sewe verdagtes is op verskillende plekke rondom Bloemfontein opgespoor waar hulle weggekruip het.”
Die verdagtes wat aangekeer is ná ’n transitorooftog buite ’n winkelsentrum by Heidedal, Bloemfontein, het Maandag (3/6) in die Bloemfontein landdroshof verskyn. Die saak is tot Donderdag en Vrydag uitgestel vir borgaansoeke.
Die verdagtes, Lebohang Shale(43), Louw Lynweth(42), Refiloe Mokhothu, (39), Zacharia Kwili(58), Monyaki Hans (37) en Tieho Bernard Makobane (44), was na bewering betrokke in ’n skietgeveg met die polisie, sê Zweli Mohobeledi, Valke woordvoerder.
Volgena kapt. Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, is ’n sekuriteitsvoertuig deur die verdagtes in ’n BMW onderskep.
‘Die polisie het onverpoos gewerk’
Soos vroeër berig was daar ’n skietgeveg, maar berigte dui nou daarop dat niemand beseer is nie. Earle sê die polisie het deur hul onderskeie eenhede en privaat sekuriteitspersoneel vinnig op die toneel gereageer.
OFM Nuus het net vroeër berig die polisie het onverpoos gewerk. Danksy hul harde werk is ’n intelligensiegedrewe operasie van stapel gestuur en sewe verdagtes is op verskillende plekke rondom Bloemfontein opgespoor waar hulle weggekruip het.
Earle voeg by dat geld, wat vermoedelik tydens die voorval gesteel is, twee vuurwapens, ’n AK-47 en ’n pistool met 30 rondes en twee motors is deur die span gedurende hierdie operasie teruggevind.
‘Forensiese bewyse kan ’n individu by die toneel plaas’
Die polisie maan die publiek om nie na tonele van hierdie aard te stroom nie, soos in baie videogrepe wat rondgestuur word, gesien word, omdat hierdie gedrag nie net ’n bedreiging vir hul veiligheid inhou nie, maar hulle ook in die moeilikheid kan laat beland.
“Daar kan forensiese bewyse wees wat ’n individu by die toneel plaas, selfs al was hulle nie by die misdaad betrokke nie,” sê Earle.
Facebook-gebruikers is beïndruk met die polisie se flinke optrede. Carol Marsura sê: “Welgedaan! Ek salueer julle ouers. Bly veilig. Mag God julle seën.” Frederick Botha sê: “Goeie werk. Hoop net dit kan so aanhou.”
Johannes Letshabo sê: “Manne in die blou pakke, as ek ’n duisend tonge gehad het net om julle te bedank, sou ek julle regtig ’n duisend keer bedank het vir wat julle nou doen deur elke dag ál meer en meer by te sit om ontslae te raak van hierdie booswigte, kriminele, rowers en moordenaars, asook die plaasmoorde. Ons sien wat julle doen om ons te beskerm.”
OFM Nuus/Heidré Malgas mvh
