Central SA
Kimberley: Vermeende moordenaar van blitspatrollielede verskyn in hof─── HEIDRÈ MALGAS 15:52 Tue, 04 Jun 2024
“Hy is ’n psigiatriese pasiënt wat voorheen al in verskeie psigiatriese fasiliteite opgeneem is. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord, drie aanklagte van roof, motordiefstal, asook vir die diefstal van ’n skootrekenaar.”
Die man wat aangekla word van die moord verlede jaar op twee blitspatrollielede in Kimberley, se saak hervat Woensdag (5/6) vir ’n formele aanklag in die Kimberley hooggeregshof.
Daniel Wilfred Alberts (38) se sielkundige evaluering is in April afgehandel en hy is gereed om in die hof te verskyn. “Hy was agt maande lank op die waglys ná sy inhegtenisneming voor hy opgeneem kon word,” sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder.
Die Kimberley-distrikshof het vroeër verneem hy is ’n psigiatriese pasiënt wat voorheen al in verskeie psigiatriese fasiliteite opgeneem is. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord, drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede, motordiefstal, asook vir die diefstal van ’n skootrekenaar.
Daniel Alberts het met die motor in ’n sloot beland. Foto verskaf
Konst. Okaetse Mandindi (35) en sers. Kedimetse Masilo (45) van die blitspatrollie in Kimberley was op 22 Augustus besig om inligting oor ’n gesteelde voertuig op te volg. Die voertuig was van Bloemfontein onderweg en is later in Kimberley gewaar.
Alberts het tot by ’n Transnet-perseel gejaag waar hy in ’n ongeluk betrokke was en toe weggehardloop het. Die twee polisielede het hom agternagesit en hy het na bewering op hulle losgebrand. Alberts is dieselfde dag in hegtenis geneem.
Konst. Okaetse Mandindi en sers. Kedimetse Masilo. Foto's verskaf
OFM Nuus het vroeër berig Ofentse Mokae, Noord-Kaapse DA-woordvoerder, het gesê die DA veroordeel die dubbele polisiemoord in Kimberley.
“Ons eer konst. Okaetse Mandindi en sers. Kedimetse Masilo. Hulle het gesterf toe hulle probeer het om ’n veiliger wêreld te skep met minder misdadigers op ons strate,” het Mokae gesê. “Ons is veral bekommerd oor berigte dat die oortreder ’n herhaalde misdadiger is.”
Sers. Masilo het in 2007 by die polisie aangesluit en het 16 jaar diens gehad ten tyde van haar dood, en konst. Mandindi het in 2012 by die polisie aangesluit.
Die polisieondersoek duur voort.
OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh
