On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp-ma se breinoperasie nou ’n finansiële kopseer

───   ZENANDE MPAME 07:03 Thu, 06 Jun 2024

Klerksdorp-ma se breinoperasie nou ’n finansiële kopseer | News Article
Elnika Lombard kort voor die breinoperasie. Foto verskaf

“Ek het wel ’n mediese fonds, maar nie alle uitgawes ná die operasie word gedek nie.”

’n Jong ma van Klerksdorp het onlangs ’n breinoperasie ondergaan, maar weens die finansiële stres van die operasie moet sy hulp soek.

Die ma van drie (ouderdom 2-11) is meegedeel dat sy ganglioglioom het, wat ’n laegraadse gewas van gemengde seltipe is. Dit word gewoonlik as ’n graad 1- of 2-glioom breingewas geklassifiseer. Hulle versprei baie stadig en versprei nie na ander dele van die liggaam nie.

‘ ’n Gewas so groot soos ’n R2-muntstuk was besig om te groei’

Ná haar breinoperasie op Donderdag 23 Mei in Pretoria is vir Elnika Lombard (25) gesê sy moet oor drie maande teruggaan vir ’n MRI om te kyk of die res van die gewas nog groei en of sy bestraling moet ondergaan.

Elnika Lombard (25) met twee van haar kinders. Foto verskaf

“Ek het nou eers vir die eerste keer probeer bestuur ná my operasie in Mei. Dokters het 90% van die gewas in my brein verwyder. Die gewas op my brein is op 9 April ontdek ná ’n jaar van konstante hoofpyn,” het Lombard gesê.

“My huisdokter het my voortdurende klagtes van erge hoofpyn afgelag en ’n ander dokter het my vir ’n MRI verwys, wat my ergste vrees bevestig het. ’n Gewas so groot soos ’n R2-muntstuk was besig om te groei en het reeds ‘graad 2’ bereik. Ek het dadelik begin om my begrafnis te beplan.

‘Ek kon niks in my lyf hou nie, nie eens ys nie’

“Tydens my operasie het ek die eerste uur geslaap en toe wakker geword. Ek kan niks onthou behalwe dat ek in die intensiewesorgeenheid wakker geword het en aggressief opgegooi het nie. Ek kon niks in my lyf hou nie, nie eens ys nie.

“Ná my operasie in Mei moes ons Dinsdag 6 April teruggaan na die Wilgers-hospitaal in Pretoria, waar daar vir my gesê is ek het ganglioglioom,” het sy gesê.

Elnika Lombard (25) ná haar breinoperasie. Foto verskaf

Lombard is aangesê om soveel moontlik te rus, om niks swaar op te tel nie en nie te besig te wees nie. “Ek sukkel selfs om my tweejarige dogtertjie op te tel, en die linkerkant van my lyf is baie swak. Ek kan ook nie my mond heeltemal oopmaak nie.”

Die ma het finansiële bystand versoek om te help met haar mediese rekeninge aangesien haar verloofde die enigste een is wat tans ’n inkomste verdien. Sy sal ’n spraakterapeut moet besoek en oor drie maande weer vir ’n MRI gaan.

“Ek weet dit is baie om te vra, maar ek sal die finansiële bystand opreg waardeer aangesien dit ons finansiële stres sal verlig,” het Lombard gesê.

’n Geldinsameling is vir Lombard begin om met al haar uitgawes ná die operasie te help.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.