Central SA
Metsimaholo-munisipaliteit waarsku koue kan kragtoevoer belemmer─── CASEY-LEE ANTHONY 11:25 Thu, 06 Jun 2024
“Hierdie toename in aanvraag kan die elektriese netwerk van die munisipaliteit onder druk plaas, veral tydens spitstye, wat tot potensiële oorladings kan lei en elektrisiteitsvoorsiening beïnvloed.”
Metsimaholo-munisipaliteit op Sasolburg waarsku inwoners dat die koue weer hierdie winter kragvoorsiening kan belemmer.
Eskom het beurtkrag die afgelope 71 dae opgeskort, maar noudat die winter toeslaan, gaan inwoners verseker meer toestelle binne huishoudings gebruik om warm te bly, soos elektriese komberse, verwarmers en ander verwarmingstoestelle, wat almal krag vreet.
“Hierdie toename in aanvraag kan die elektriese netwerk van die munisipaliteit onder druk plaas, veral tydens spitstye, wat tot potensiële oorladings kan lei en elektrisiteitsvoorsiening beïnvloed,” sê die munisipaliteit se kommunikasieafdeling.

Kinders van Willem Postma Primêre Skool in Bloemfontein het Dinsdag ’n sneeuman gebou. Foto: Facebook
Die afgelope naweek is gekenmerk deur strawwe weerstoestande wat sneeuval in sommige dele asook swaar donderstorms behels het en amptelik as die begin van die winter beskou kan word.
“Ons versoek en raai al ons inwoners aan om ekstra versigtig te wees. Behandel alle elektriese bedrading as lewendig en skakel alle toestelle af om beserings of skade te voorkom, aangesien die elektrisiteitstoevoer aan of af kan wees.”\

’n Storm steek in Januarie 2022 op oor Sasolburg. Foto: Facebook
Wenke oor hoe om elektrisiteit spaarsamig te gebruik hierdie winter, volgens www.myvoltage.co.za:
- Word ’n geiser-ghoeroe; geisers verbruik die meeste in ’n huishouding, neem tot 30% van ’n huishouding se elektrisiteitsrekening, om termiese energieverlies te verminder, bedek jou geiser en sy pype met aëroliet of isoterm.
- Ligte “af”; Ligte verbruik tot 17% van die maandelikse elektrisiteitsrekening, maak seker jy skakel ligte af wat nie gebruik word nie of skakel oor na energiedoeltreffende gloeilampe (LED’s) of CFL’s (Compact Fluorescent Lamps)
- Stort korter; Neem ’n vinnige warm stort in plaas van ’n warm bad.
- Trek die prop uit; proppe wat nog ingeprop is, verbruik steeds elektrisiteit. Skakel af of trek uit om seker te maak dat geen krag getrek word sonder dat jy dit gebruik nie.
