Central SA
Klerksdorp-hospitaal soek dringend familie van psigiatriese pasiënt─── HEIDRÈ MALGAS 11:53 Thu, 06 Jun 2024

Volgens ’n anonieme bron is Van Rijn al langer as vyf maande in die hospitaal. Sy was vyf maande ’n binnepasiënt en is nou al ongeveer ’n maand ontslaan.
Die bestuur van die Klerksdorp/Tshepong-hospitaal doen ’n beroep op die publiek om die familie van ‘n psigiatriese pasiënt te help opspoor wat tans in die Tshepong-hospitaal opgeneem is.
Ronel van Rijn, oorspronklik van Johannesburg, het gesê sy was besig om die wêreld te verken toe sy in die hospitaal opgeneem is. Sy is gesien terwyl sy in die strate van Klerksdorp rondgeloop het.
Sy het twee adresse verskaf: Kilburnstraat 44, Horison View, Roodepoort, en Sangiroweg 23, Elandspark, Johannesburg.
‘Sy het blykbaar uit ’n ouetehuis weggeloop’
Volgens ’n anonieme bron is Van Rijn al langer as vyf maande in die hospitaal. Sy was vyf maande ’n binnepasiënt en is nou al ongeveer ’n maand ontslaan.
Die bron beweer dat Van Rijn se familie haar verlaat het en niks met haar te doen wil hê nie. Om die situasie verder te bemoeilik, het Van Rijn blykbaar uit ’n ouetehuis weggeloop waar ’n goeie Samaritaan en haar man haar geplaas het.
Voorts was sy ook in ’n psigiatriese hospitaal in Midrand opgeneem. Daarna is sy terugverplaas na Tshepong-hospitaal, waar sy in die psigiatriese afdeling opgeneem is.
Tshepong/Klerksdorp-hospitaal. Foto: Facebook
Die bron het aangedui dat die hospitaal tans in ’n penarie verkeer, aangesien hulle Van Rijn nie kan ontslaan sonder ’n ondersteuningstelsel of familie om vir haar te sorg nie. Daarom soek die hospitaal in Klerksdorp dringend na iemand om Van Rijn te help.
Prof. Felix Potocnik, van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters (Sasop), sê daar is ’n verskil tussen normale veroudering en belemmerde geestesgesondheid, en dit is belangrik om tussen hulle te onderskei. Dikwels word depressie en demensie ondergediagnoseer, oor die hoof gesien en onbehandeld gelaat by ouer volwassenes.
Potocnik is bekommerd oor die tekort aan sorg vir bejaardes met geestesgesondheidstoestande in Suid-Afrika.
Hy voeg by dat die Wêreldgesondheidsorganisasie se Global Health Observatory-data skat dat daar een psigiater per 100 000 van die Suid-Afrikaanse bevolking is, en selfs minder (0,4%) vir staatspasiënte; ’n situasie wat as uiters onvoldoende beskou word.
Die Tshepong-hospitaal. Argieffoto
In vergelyking het die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk onderskeidelik 12,4 en 14,6 psigiaters per 100 000. Van Suid-Afrika se 650 psigiaters in 2018 was slegs drie spesialiste of psigiaters vir bejaardes. Daar word meer staatgemaak op familie, vriende, maatskaplike ondersteuningsgroepe, distriksklinieke en streekshospitale om te help met die verskaffing van dienste aan bejaardes. Daarbenewens is medikasie duur.
“Ouer volwassenes wat aan depressie ly, ervaar simptome wat hul daaglikse lewens ontwrig, wat lei tot onttrekking van sosiale aktiwiteite, vriende en familie en al die dinge wat hulle voorheen vreugde verskaf het. Dit is belangrik vir familielede om waaksaam te wees en enige veranderinge in gedrag raak te sien en hulp te soek by mediese en ander gesondheidsdienste.”
Gemeenskapslede wat moontlik inligting het wat kan help om Van Rijn se familie op te spoor, word gevra om Tshepong-hospitaal se maatskaplikewerkafdeling by 018 406 3474 te bel.