Central SA
Upington Krematorium moet storting van veraste menslike oorskot staak─── ZENANDE MPAME 13:57 Thu, 06 Jun 2024
“Die afval is in swart plastieksakke weggegooi. Die meeste van die vullissakke is geskeur en die inhoud met ander afval gemeng.”
Kisdeksels en as wat beendere bevat, is op die De Duine-stortingsterrein op Upington gesien, nadat daar ’n klag by die luggehaltebestuurseenheid in die dorp gelê is.
Die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming het Dinsdag (5/6) die onwettige storting van veraste menslike oorskot deur die Upington Krematorium veroordeel.
Die eienaar van die Upington Krematorium het erken dat die afval wat by die stortingsterrein gestort is van die krematorium afkomstig is. Hy het nie gespesifiseer of die afval van die krematorium algemeen of gevaarlik was nie.
‘Gestorte kisbedekkings en as is ontdek wat verbrande bene bevat het’
“Die departement het inspeksies by die De Duine-stortingsterrein gedoen en gestorte kisbedekkings en as ontdek wat verbrande bene bevat het,” sê Bongani Silingile, woordvoerder van die Noord-Kaapse Departement van Landbou, Omgewingsake, Landelike ontwikkeling en Grondhervorming.
“Die afval is in swart plastieksakke gegooi en die meeste van die swart vullissakke is geskeur en met ander afval gemeng.
“Die departement het Upington Krematorium verder aangeraai om hul afval te assesseer met ’n laboratorium wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (SANAS) geakkrediteer is ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuursafval,” het hy gesê.
DFA berig die mede-eienaar van Upington Krematorium, Louis Kotze, het Woensdag (5/6) ontken dat hulle enige menslike oorskot by die stortingsterrein gestort het.

Die laboratoriumsertifikaat is oorhandig om te bewys dat die afval wat na die stortingsterrein vervoer is houtkisdeksels is. Foto verskaf
Die krematorium het ’n sertifikaat van ’n laboratorium oorhandig om te bewys dat die afval wat na die stortingsterrein vervoer is houtkisdeksels is wat nie gevaarlik vir die omgewing is nie. “Die departement moet bewys wie verantwoordelik is vir die storting van menslike oorskot,” het Kotze gesê.
“90 persent van die oorskot van ’n oorledene is in die boks wat aan die naasbestaandes gegee is en die een persent as wat oorbly, is stof en goed wat in die oond gelos word wanneer dit skoongemaak word.”
Die departement het die krematorium voorts aangeraai om ’n vervoerder vir gevaarlike mediese afval te kontak vir die wegdoening van die afval by die gevaarlike stortingsterrein.
‘Die departement is bereid om regstappe teen die Upington Krematorium neem’
Daar is verder ’n paar aksies aanbeveel om as regstellende aksie gebruik te word:
• Die praktyk om verbrande menslike oorskot na die De Duine-stortingsterrein te vervoer, moet onmiddellik stop.
• ’n Diensverskaffer moet aangestel word om die afval te versamel en daardie afval moet by ’n gevaarlike stortingsterrein weggedoen word.
• Rekords van die afval wat vervoer is en finale wegdoeningsertifikate moet gehou word vir toekomstige verifikasies.
Indien Upington Krematorium versuim om hierdie aanbeveling na te kom, is die departement bereid om regstappe te neem.
Die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid is gekontak en het gesê dat hulle ondersoek sal instel, aangesien hulle nie bewus is van die kwessie nie.
