Central SA
Depressie onder swanger SA vroue ‘’n groot risiko’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 05:00 Fri, 07 Jun 2024
“Perinatale depressie kan ernstige gevolge vir ma en baba inhou.”
Volgens statistieke sal tussen 30 en 40% van Suid-Afrikaanse vroue perinatale depressie (swangerskap-depressie) ervaar, in vergelyking met ’n wêreldwye voorkoms van 10%.
Dr. Bavi Vythilingum, ’n psigiater wat by Netcare Akeso Kenilworth, Kaapstad praktiseer, glo alle vroue moet dopgehou word vir perinatale simptome tydens hul swangerskap, asook vir postnatale (nageboortelike) depressie.
“Perinatale depressie is ’n oorkoepelende term wat depressie tydens, sowel as ná swangerskap dek. Ons verwys daarna as perinatale depressie omdat baie vroue wat depressie tydens swangerskap het, ook postnatale (nageboortelike) depressie ontwikkel.

Foto: Masterfile
“Boonop is postnatale depressie ’n risikofaktor vir depressie in daaropvolgende swangerskappe; so die term perinatale depressie dek al hierdie periodes.”
Sy waarsku dat perinatale depressie ernstige gevolge vir ma én baba inhou. “Die ma ervaar erge lyding, emosionele pyn, probleme om met haar baba ’n band te vorm en, op sy ergste, gedagtes of dade van selfskade en selfdood.
“Wat die baba se gesondheid betref, word depressie tydens swangerskap geassosieer met risiko’s van hoë bloeddruk, voortydige bevalling en babas wat nie so goed groei en ontwikkel soos hulle moet nie.
“Nageboortelike depressie, indien onbehandeld gelaat, is een van die grootste risikofaktore vir geestesongesteldheid by die geaffekteerde moeder se kinders, veral as hulle jong volwassenes word.

Foto: Masterfile
“Dit meng in met die ma se vermoë om met haar baba ’n band te vorm, en haar vermoë om sensitief te reageer teenoor haar baba, wat merkbare effekte op die ontwikkeling van die kind kan hê. Perinatale depressie raak die hele gesin en het ’n impak op geslagte se geestesgesondheid.
“Die grootste risikofaktor vir perinatale depressie is veral indien iemand voorheen perinatale depressie gehad het. Ander risiko’s sluit ’n geskiedenis van geestesgesondheidsteurings soos depressie of angs in.
“’n Dwelm- of drankmisbruikversteuring, veral as die vrou steeds middels tydens swangerskap gebruik, is nog ’n ernstige risikofaktor,” sê Vythilingum.
Sy voeg by hierdie vroue moet as ’n hoë risiko beskou word en moet met sorg en empatie behandel word. Nog ’n risikofaktor is om ’n ongewenste baba te hê, hoewel dit nie veralgemeen moet word na onbeplande swangerskappe nie, aangesien baie swangerskappe wat onbeplan is, verwelkom word.

Foto: Masterfile
“Ander faktore, soos om ’n nieondersteunende maat te hê, óf waar daar intimiteitgeweld is, dra ook by tot die risiko van perinatale depressie.”
Volgens Vythilingum is die goeie nuus dat perinatale depressie doeltreffend behandel kan word. “Die eerste stap is om perinatale depressie te herken. Dit is hoekom dit belangrik is dat alle vroue se emosionele toestand tydens hul swangerskap en ná geboorte dopgehou moet word. Daar is eenvoudige, akkurate siftingsinstrumente beskikbaar om tekens van perinatale depressie te identifiseer.”
Indien ’n diagnose van perinatale depressie gemaak word, moet die moeder en gesin holistiese, multidissiplinêre behandeling ontvang met die ondersteuning van al hul gesondheidsorgverskaffers, insluitend die ginekoloog, die pediater en die klinieksuster.

Foto: Masterfile
Perinatale depressie kan behandel word met psigoterapie, ook bekend as praatterapie, en medikasie. “Gespreksterapie is baie effektief, veral vir ligte tot matige depressie, en baie vroue vind baat hierby. Vir matige tot ernstige depressie, óf vir ’n ma wat gedagtes het van selfmoord, óf om haarself of haar baba skade aan te doen, word medikasie egter aanbeveel,” sê Vythilingum.
“Daar is deesdae baie medikasie wat veilig is om tydens swangerskap en borsvoeding te gebruik. Moeders kan hierdie medikasie met veiligheid neem en beter word; hulle hoef nie te ly nie.
“Waar toepaslik, is die neem van voorgeskrewe medikasie as jy matige tot ernstige perinatale depressie het beter vir jou en die baba, want dit maak jou gesond en laat jou toe om werklik vir jouself en jou kind te sorg.”

Foto: iStock
Vythilingum beklemtoon dat moeders ondersteun moet word, nie net prakties, soos om ’n maaltyd te kook of na die baba om te sien nie, maar ook deur aan hulle emosionele ondersteuning te gee en hulle te verseker dat hulle goeie moeders is, hoewel hulle siek is tydens perinatale depressie.
“Dit is van kardinale belang dat ons erken dat perinatale depressie ’n ernstige gesondheidsprobleem is. Ons kan deur groter bewustheid geaffekteerde moeders help deur aan hulle die behandeling en ondersteuning te bied wat hulle verdien,” sê sy.
Vir enige geestesgesonheidnoodgeval, óf vir advies oor toegang tot geestesgesondheidsorg vir jouself of ’n geliefde, bel Netcare Akeso, ’n 24-uur-krisislyn, by 0861 435 787. Opgeleide beraders is beskikbaar om met jou te praat.
OFM Nuus mvh
