Central SA
Man van Kestell agter tralies oor peuter se dood─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:22 Sat, 08 Jun 2024

“Die kind is met ’n stok aangerand, geskop en in ’n wasbak vol koue water geplaas omdat hy sy doek vuil gemaak het."
’n Man van Kestell in die Vrystaat wat vir die moord op ’n peuter in hegtenis geneem is, bly vir eers agter tralies totdat hy weer op 19 Junie in die landdroshof moet verskyn.
Die verdagte sal dan vir borgtog kan aansoek doen, sê Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder.
Die polisie in Kestell het die verdagte (25) van Tlholong by Kestell Vrydag (7/6) in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy vriendin (21) se seun (2) aangerand en vermoor het.
Kliniek ontbied polisie oor kind se kneusplekke
“Die verdagte het glo Woensdag (5/7) omstreeks 20:00 die kind met ’n stok aangerand, geskop en in die wasbak vol koue water geplaas omdat hy sy doek vuil gemaak het.” Die verdagte en sy vriendin, die seun se ma, het die kind die volgende dag vir mediese behandeling kliniek toe geneem.
Mophiring sê die kliniek het die polisie ontbied nadat die personeel kneusplekke aan sy lyfie opgemerk het. Die seuntjie is kort daarna in die kliniek oorlede.
“Dit is regtig hartseer dat só ’n voorval gebeur tydens Kinderweek se bewusmakingsveldtogte, wat daarop gemik is om kindermishandeling binne die huis en samelewing te voorkom,” sê Mophiring.
Aspoestertjie-effek verduidelik mishandeling deur stiefouers
Die afgelope 30 jaar is data oor die Aspoestertjie-effek ingesamel wat meer duidelikheid gee oor stiefouers wat hul stiefkinders mishandel of vermoor.
Volgens Charles Crawford en Dennis Krebs se Foundations of Evolutionary Psychology is die risiko baie groter vir stiefkinders om deur stiefouers mishandel of vermoor te word. Dié navorsers het ook bevind dat mans meer geneig is om kinders leed aan te doen en dat die meeste van die kindermishandeling in die kind se eie huis gebeur.
Foto: utphysicians.com
Stiefouers toon nie net meer negatiewe gedrag (soos mishandeling) teenoor stiefkinders nie, maar ook minder positiewe gedrag vergeleke met biologiese ouers. Stiefouers belê gewoonlik minder in stiefkinders se opvoeding, speel minder met hulle en neem hulle minder dokter toe.
Gegrond op data van die Australia National Coroners’ Information System is stiefouers meer geneig om kinders jonger as vyf jaar te vermoor.
OFM Nuus cvdw