Central SA
Sewe SAID-amptenare in Ladybrand-hof vir bedrog─── 11:28 Sun, 09 Jun 2024

“Die verdagtes was by die grensposte van Ficksburgbrug, Maserubrug en Van Rooyenshekbrug tussen Lesotho en Suid-Afrika gestasioneer.”
Die Valke het sewe van nege verdagtes in hegtenis geneem wat na bewering betrokke was by belastingbedrog van meer as R650 miljoen. Hulle verskyn Maandag (10/6) in die Ladybrand-landdroshof.
Volgens die polisie is die vier vroue en drie mans voormalige en huidige werknemers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Hulle was by die grensposte van Ficksburgbrug, Maserubrug en Van Rooyenshekbrug tussen Lesotho en Suid-Afrika gestasioneer.
Die sewe verdagtes is tussen Donderdag (6/6) en Vrydag (7/6) in Limpopo, Gauteng, Vrystaat en die Oos-Kaap in hegtenis geneem.
‘Vyf is dissiplinêr verhoor, ontslaan’
“Die inhegtenisneming van nog twee verdagtes is op hande,” sê Zweli Mohobeleli, Vrystaatse Valke-woordvoerder. Die verdagtes het na bewering tussen 2018 en 2019 minstens 333 onwettige transaksies van R653 500 455,28 gefasiliteer.
Die grenspos by Ficksburgbrug. Foto: Ales Tvrdy
“Die SAID het bevestig dat vyf van hierdie werknemers dissiplinêr verhoor is, skuldig bevind en ontslaan is.
“Twee werknemers het bedank, hangende die dissiplinêre proses. Een werknemer wat deur dieselfde proses gegaan het, het 'n finale skriftelike waarskuwing ontvang en twee ander ondergaan tans die dissiplinêre proses,” sê Mohobeleli.
‘NVG verwelkom arrestasies’
Die Nasionale Vervolgingsgesag het die arrestasies verwelkom.
Die verdagtes sal Maandag (10/6) in die Ladybrand-landdroshof in die Vrystaat verskyn.
Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, geldwassery, asook die oortreding van die Wet op Belastingadministrasie, Doeane- en Aksynswet, en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.