On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Nigeriër in Potchefstroom vas oor dwelms

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Mon, 10 Jun 2024

Nigeriër in Potchefstroom vas oor dwelms | News Article
Foto: SA Polisie

“ ’n Jaagtog het gevolg nadat die verdagte die polisie se opdrag om stil te hou geïgnoreer het.”

’n Vermeende dwelmsmous van Potchefstroom sal na verwagting Maandag (10/6) in die landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van en handeldryf met dwelms.

Die man (26), oorspronklik van Nigerië, is Donderdag (6/6) deur lede van Mmabatho-polisie se sigbare polisiëringseenheid in hegtenis geneem.

Die span het langs Brayweg toesig gehou waartydens hulle die verdagte se voertuig, ’n wit Volkswagen Polo met Gauteng-nommerplate opgemerk het, sê brig. Sabata Mokgwabone.

“’n Jaagtog het gevolg nadat die verdagte die polisie se opdrag om stil te hou, geïgnoreer het. Die vasberade span het uiteindelik die voertuig tot stilstand gebring. Tydens 'n soektog is 43,8 gram crystal meth en mandrax-tablette met 'n geraamde straatwaarde van R16 000 ontdek.”

Die span het ook beslag gelê op die verdagte se voertuig.

Vas oor dwelms aan minderjariges

In ’n soortgelyke voorval is ’n 42-jarige man in Maart vanjaar in hegtenis geneem en aangekla dat hy dwelms aan minderjariges in Bloemfontein smous. Hy is ook  op aanklagte van die onwettige handel in vuurwapens en ammunisie in hegtenis geneem.

Fikiswa Matoti, woordvoerder van die Valke, het inwoners van Thaba Phatswa, oos van Bloemfontein op 12 Maart die Valke dringend na 'n gemeenskapsbyeenkoms ontbied en hul griewe uitgespreek oor beweerde dwelmsmouse in die omgewing.

“Hulle was bekommerd oor die ongebreidelde gebruik van mandrax en kristalmetamfetamien onder minderjarige individue."

Projek Dead Road is deur die Valke begin na aanleiding van die gemeenskap se versoek, wat gelei het tot die uitvoering van talle operasies. Tydens een van die operasies is beslag gelê op 'n onwettige vuurwapen.

Barend Jansen (57) en Edrick Morrison, ook bekend as Marshall Brummer (58) het op 14 Maart 2024 in die Tweespruit-landdroshof verskyn en is borgtog van onderskeidelik R17 000 aan Jansen en R20 000 aan Brummer toegestaan.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.