On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

‘Steeds onwerklik dat my Chara-kind al 10 jaar weg is’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:58 Mon, 10 Jun 2024

 ‘Steeds onwerklik dat my Chara-kind al 10 jaar weg is’ | News Article
Corrie van der Vyver-Burger en Chara van Zyl. Foto verskaf

“Ek dink verseker God beskerm jou om alles op een slag te verwerk.”

Dit is tien jaar sedert haar enigste dogter in Kimberley dood is, maar ná al die jare is dit ’n pyn waarmee sy elke dag moet saamleef.

Op 11 Julie 2012 was Chara van Zyl (18) in ’n motorongeluk betrokke. Chara was een van die insittendes toe die bestuurder na bewering nie by ’n stopteken op die R31- en N12-kruising gestop het nie. Dit staan ook bekend as “die kruising van die dood”.

‘Albei het agter in die motor gesit’

Chara en nog ’n passasier, Hendré Gouws (19), is dood nadat ’n vragmotor die Ford Focus getref het. Gouws is op die toneel dood en sy later in die hospitaal. Albei het agter in die motor gesit.

Henco Boshoff (nou 30), die bestuurder van die motor, is twee jaar ná die ongeluk tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis.

Chara van Zyl was in matriek toe sy oorlede is. Foto verskaf

Vir Corrie van der Vyver-Burger, Chara se ma, voel dit nog soos gister want jy is nie voorbereid op die dood van ’n kind nie. “Jy hoor van ander mense wat deur so iets gaan en dink dit moet erg wees, maar jy besef nie werklik die impak van hierdie tipe verlies nie. Dit is nie soos die dood van ’n ma, broer of oupa nie.”

Die eerste paar weke ná haar dogter se dood het vir haar gevoel soos om in ’n waas te wees. “Ek dink verseker God beskerm jou om alles op een slag te verwerk.

“Daar is stadiums van rou wat oor die jare opgeskryf is, maar rou neem jou deur soveel emosies, en die stadiums kan weer en weer ervaar word. Ná tien jaar, dit is nog so onwerklik dat my Chara-kind nie meer daar is nie.”

Chara van Zyl is jare gelede in ‘n motorongeluk dood. Foto verskaf

Corrie sê die gemis en hartseer sal nooit heeltemal verdwyn nie, maar die pyn is minder. “Die eerste jaar is die ergste, want dit is die eerste vakansie, die eerste verjaardag, of Kersfees sonder jou kind. Ongelukkig is hierdie ’n lewenslange gemis na jou kind. Jy sien haar vriende gaan universiteit toe, trou, werk. En, jy weet jou kind sal dit nooit hê nie.”

Sy vergelyk die verlies met ’n amputasie. “Aan die begin is jy deeglik bewus van jou arm wat nie meer daar is nie. Die wond genees, en jou liggaam leer om aan te pas, maar jy sal altyd bewus wees van jou vermiste ledemaat.”

Corrie se raad is dat geen emosie onderdruk moet word nie: “Huil wanneer jy moet, wees hartseer, treur. Praat met iemand wat jou kan bystaan. Kry professionele hulp as jy moet. Kyk na jouself. Moet egter nie so baie fokus op jou eie pyn dat jy vergeet die res van die familie het ook iemand kosbaar verloor nie.”

Corrie van der Vyver-Burger saam met haar dogter, Chara. Foto verskaf

Sy beklemtoon om nie net vir jouself of mense rondom jou te leef nie, maar ook vir jou kind. “Reik uit na ander wat hulp nodig het; vind ’n nuwe doel in die lewe. Genesing kom dikwels meer uit gee as ontvang.”

Corrie sê dit is van kardinale belang om te onthou dat hoewel ons nie kan beheer wat met ons gebeur nie, ons reaksies en keuses ná trauma kan beheer. “Ons kan besluit hoe ons ons kinders sal eer wanneer hulle sterf.”

‘Ek maak ook ’n verskil in iemand se lewe’

Chara se dood het haar geïnspireer om ’n traumaberader te word en so is Chara’s Care gestig. “Ek dra nie net haar ‘nalatenskap’ oor aan elke mens aan wie ek hoop kan gee nie, maar ek maak ook ’n verskil in iemand se lewe.”

Elke oomblik wat met ’n geliefde gedeel word, word kosbaar nadat hulle weg is, maar Corrie koester sekere herinneringe veral haar geboortedag. “Ek wou so graag ’n dogtertjie na my tweelingseuns, Alexander en Freddie, gehad het. Chara was ’n regte dogtertjie wat altyd mooi aangetrek het. En ek kon so lekker met haar hare speel, “ sê Corrie.

Chara van Zyl. Foto verskaf

“Toe sy groter word, het sy my vriendin geword, iemand saam met wie ek in die winkelsentrum kon rondloop, net lê en fliek kyk.” Sy onthou die tyd toe haar twee seuns universiteit toe is, en drie geslagte in die huis gewoon het—sy Chara en Chara se ouma. “Dit was so ’n kosbare tyd. Ons uitstappies en vakansies was so lekker.”

As Corrie vandag enige raad aan ouers kon gee, sou dit wees om elke oomblik saam met hul kinders en familie te koester. “Geniet mekaar, want eendag kan hierdie oomblikke jou beste herinneringe word.”

OFM Nuus dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.