Central SA
Bloemfontein se DBV kort skenkings vir kouer maande─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:54 Mon, 10 Jun 2024

“Hoewel honde ’n pelsjas het wat help om ’n mate van isolasie en beskerming teen die weer te bied, is hierdie laag nie genoeg om hulle te beskerm teen blootstelling aan die koue vir ’n langer tydperk nie.”
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein is hoofsaaklik afhanklik van donasies en vra die publiek om te help om viervoetiges se lewe veral nou te vergemaklik.
“Die winter is ’n besonder uitdagende tyd vir enige DBV,” sê Werner Botha van Bloemfontein se vereniging. “Ons het openbare bystand nodig om te verseker dat die diere die koue seisoen kan oorleef.
“Ons grootste behoefte is aan komberse. Ons kort elke week drie tot vier komberse per hok om hoë higiënestandaarde te handhaaf en ons diere warm te hou.”
Foto: iStock
Voedsel is ook noodsaaklik, veral tydens die winter wanneer diere meer kalorieë verbrand om warm te bly en dus meer voeding nodig het. “Boonop,” voeg Botha by, “is speelgoed altyd hoog in aanvraag. Balle en toue help met die stimulasie van ons diere om gedragsprobleme te voorkom wat by diere in ’n hok kan ontstaan.”
Die DBV is ook altyd dankbaar vir finansiële bydraes. “Selfs ’n skenking van net R20 help om ons deure oop te hou en ons inspektoraat op die pad,” sê Botha. “Geld word ook vir brandstof gebruik en is veral kritiek wanneer brande uitbreek.”
Foto: iStock
“Openbare ondersteuning is die dryfveer agter enige DBV. Ons vra die publiek om hul plaaslike DBV te ondersteun, wat ons in staat stel om voort te gaan om die gemeenskap en diere in nood te dien."
Volgens PetMD is honde, net soos mense, soogdiere. Hulle kry dus ook koud. Hoewel honde ’n pelsjas het wat help om ’n mate van isolasie en beskerming teen die weer te bied, is hierdie laag nie genoeg om hulle te beskerm teen langtermynblootstelling aan die koue nie.
Honde het ledemate – ore, voete en sterte – wat gewoonlik nie veel pels het nie en geneig is om te vries.
Foto: iStock
Tekens wat kan daarop kan dui dat jou hond koud kry:
• Bewerasie.
• Geboë postuur en stert tussen die bene.
• Tjank of blaf.
• Verandering in gedrag, soos angstigheid of ongemak.
• Soek plekke vir skuiling.
• Probeer pote van die grond af hou.