Central SA
Mense sonder water weens kragkrisis in Noord-Kaap─── HEIDRÈ MALGAS 06:00 Tue, 11 Jun 2024
“Inwoners van Grootdrink en Wegdraai is onder diegene wat erg geraak word. Gedeeltes van hierdie gemeenskappe sit sonder water weens die kragonderbrekings.”
Die voortdurende kragtoevoerkrisis in die !Kheis-munisipaliteit in die Noord-Kaap het verskeie gemeenskappe dae lank sonder water gelaat, omdat die munisipaliteit se krag deur Eskom afgeskakel is.
“Higiënestandaarde raak onhanteerbaar soos gesinne sukkel om te was en kos te maak, ten spyte van die winterseisoen,” sê Koos Esau van die munisipaliteit se hoofkantoor op Groblershoop.
Inwoners van Grootdrink en Wegdraai is onder diegene wat die ergste geraak word. Gedeeltes van hierdie gemeenskappe sit sonder water vanweë die kragonderbrekings.
‘Die waterkrisis spruit voort uit wanbetalingsprobleme’
Die situasie het gesinne gedwing om alternatiewe maniere te kry om hul kinders skool toe te stuur en die daaglikse lewe te bestuur.
Die waterkrisis spruit voort uit wanbetalingsprobleme, maar die plaaslike regering beraadslaag met Eskom om die saak op te los. “Ja, wanbetaling is die oorsaak, maar daar is tans onderhandelings deur ons administrateurs met Eskom.”
Esau het ook gewys op die beweerde onregverdigheid in Eskom se hantering van skuld oor verskillende munisipaliteite. “Ons glo Eskom tree inkonsekwent op, omdat daar ander rade is wat miljarde verskuldig is, maar nie soos ons onder druk geplaas word nie.”
‘Die gemeenskap bly hoopvol vir ’n vinnige oplossing’
Om die krisis te verlig, word ’n vergadering met adv. Manyeneng, die provinsiale departement se hoofamptenaar, vir Dinsdag (11/6) beplan. Die besprekings sal handel oor moontlike hulp en oplossings om die erge watertekorte te verlig wat deur die kragonderbrekings veroorsaak word.
Die gemeenskap bly hoopvol vir ’n vinnige oplossing terwyl onderhandelings en besprekings voortgaan.
Munisipaliteite in die Noord Kaap moet gereeld wanbestuurkrisisse die hoof bied. OFM Nuus het voorheen berig die Sol Plaatje-munisipaliteit het R104 miljoen gekry vir die opgradering van die waterinfrastruktuur omdat die munisipaliteit altyd met water probleme sukkel.
‘Wateronderbrekings kan tydens herstelwerk voorkom’
Dié R104 miljoen sal aangewend word vir probleme rakende installasies, herstelwerk by opgaardamme en veelvuldige pyplynlekkasies, met die hulp van deskundiges wat die munisipaliteit adviseer, sê Thabo Mothibi, Sol Plaatje-woordvoerder.
Hy maan wateronderbrekings kan tydens herstelwerk voorkom, maar dit sal beperk wees tot uiterste gevalle.
