On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Pulane
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Passievolle motorgeesdriftige van Bloemfontein dié naweek ter ruste gelê

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:35 Tue, 11 Jun 2024

Passievolle motorgeesdriftige van Bloemfontein dié naweek ter ruste gelê | News Article
Sy langste reis alleen was op die ouderdom van 75 toe hy oor die 6 000 km in sewe dae afgelê het. Foto verskaf

“In die ouderdom van 80 het Jannie nog motorfiets gery. Hy het aan byeenkomste deelgeneem en bygewoon tot op 84.”

Jannie du Plessis (89), ’n groot naam in Bloemfontein se motor-, motorfiets- en 4x4-kringe, is Dinsdag (5/6) in Bloemfontein oorlede. Hy het 55 jaar in die Rosestad gewoon.

Volgens sy seun, Hein du Plessis (57), is die oorsaak van sy dood onbekend, maar hy sê sy pa het twee dae voor sy dood geval en sy heup gebreek en dit het tot sy afsterwe bygedra.

Jannie du Plessis. Foto verskaf

Du Plessis was langer as drie dekades betrokke by KDL Motorfietse in Bloemfontein, eers as mede-eienaar saam met sy twee vennote, Neville Lederle en Alex Krohn, maar later was hy die alleeneienaar. Hy het die besighede op 65 gesluit.

Hein sê sy pa het op ’n jong ouderdom skool verlaat en ’n motorwerktuigkundige geword. “My pa het nog altyd ’n groot liefde vir motorsport gehad.”

Jannie het eers as motorwerktuigkundige op Boksburg, Bethal en Delmas gewerk, en later na die Glen Landboukollege naby Bloemfontein gekom waar hy die vak meganiese aanlegte aan voornemende boere doseer het.

Hy was ook by die Camel Trophy betrokke. Foto verskaf

Hein dink terug en vertel van die eerste foto’s wat hy onthou van sy pa as jong man was by motors. “My pa en sy broer, Robbie, het ou (stamp)karre opgebou, en mekaar van die pad af gestamp met dit.”

Hein sê sy pa het ook ou motors soos MG’s, Suzuki’s en Land Rovers opgebou. “Hy het die Continental Off Road Academy in Bloemfontein begin. Hy was ook betrokke by die Camel Trophy toe dit in Suid-Afrika vir Land Rover-entoesiaste aangebied is.”

Du Plessis was ’n groot naam in Bloemfontein se motorfietskringe. Foto verskaf

In die ouderdom van 80 het Jannie nog motorfiets gery en aan byeenkomste deelgeneem en bygewoon tot op 84, “maar hy het toe besluit om eerder sy wiele te verkoop”.

“My pa het ook gereeld alleen met sy motorfiets gaan reis, maar sy langste reis alleen was in die ouderdom van 75 toe hy oor die 6 000 km in sewe dae afgelê het – van Bloemfontein na die suide van Namibië, van daar na die Caprivi-strook en weer terug.”

Hy het ’n passie vir die buitelewe gehad. Foto verskaf

Hein vertel hoe sy pa se liefde vir die buitelewe by die Rusfonteindam begin het. “My pa het ’n passie vir die buitelewe gehad. Hy was veral lief vir die dam en water, en daarom het ons almal vandag so ’n groot liefde vir die buitelewe en water.”

Lize du Plessis sê sy sal haar pa se liefde en deernis vir diere altyd onthou. “As klein dogtertjie was hy my hero en ek het gou vir mense laat hoor: Weet jy wie’s my pa? Hoe kan ek vergeet, wanneer jy lekker gemaklik op sy stoel gesit het, was sy woorde, “lekker gesit, klaar gesit, verby gesit!” Gaan jou mis, Dad, stuur liefde vir ma Karina. 

“En dan hoor ek hy sê: ‘Bye Pop, Bye Pa.’”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.