Central SA
Noordwes-polisie vra inwoners se hulp in verkragtingsake─── 05:30 Wed, 12 Jun 2024

“Hy het haar egter gegryp en haar in die nabye bosse in gedwing.”
Die polisie in Noordwes doen ’n beroep op die gemeenskap om mans wat betrokke was by verskeie beweerde verkragtings en pogings tot verkragting te help opspoor en te identifiseer.
In die eerste saak het ’n vrou (21) Vrydag 8 Maart omstreeks 15:00 deur ’n oop veld langs die spoorlyn naby die Vuselela-kollege in Potchefstroom geloop. “ ’n Onbekende man het haar genader en gevra om haar te vergesel,” sê Amanda Funani, polisiewoordvoerder. “Hy het haar egter gegryp en haar in die nabye bosse in gedwing.”
Die slagoffer het vinnig gereageer en kon ontsnap, waarna sy om hulp geroep het.
Die verdagte is donker van gelaatskleur, lank, gespierd, het kort hare, ’n bokbaard, merke aan die regterkant van sy nek en hy is na raming in sy 50’s.
Onbekende man se skets vir voorval naby Vuselela-kollege in Potchefstroom.
Die polisie vra enigeen met inligting wat kan help om die verdagte te identifiseer of op te spoor om ao. Rendani Bulannga van die Potchefstroomse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe by 082 568 9028/36 te bel.
In ’n ander voorval soek die Ikageng-polisie hulp om ’n verkragtingsverdagte te identifiseer en op te spoor.
Op Saterdag (11/5) omstreeks 15:25 is ’n vrou (34) aangerand en verkrag deur ’n onbekende man naby die Sarafina-taxistaanplek nadat sy hom in ’n plaaslike kuierplek ontmoet het.
Die verdagte word beskryf as bruin van gelaatskleur, donker oë, kort, medium gebou, met ’n dun snor en hy het ’n blou Uzzi-hemp aangehad. Sy ouderdom word iewers in die 20 geskat.
Enigeen met inligting moet ook vir Bulannga nader.
Onbekende man se skets. Hy word met die voorval naby die Sarafina-taxistaanplek in Ikakeng verbind.
Op Ventersdorp vra die polisie die gemeenskap se hulp in hul soektog na ’n man weens beweerde verkragting. Op Maandag (1/4) omstreeks 19:30 is ’n vrou (45) aangerand en verkrag deur een van twee onbekende mans in Uitbreiding 2, Tshing.
Die verdagte word beskryf as donker van kleur, donker oë, ’n bles, medium lank, skraal gebou. Hy word geskat in sy 20’s of jonger.
Enige inligting kan gegee word aan sers. Cicilia Batantse by 060 967 3966, op die MySAPS-app, of deur Stop Misdaad te bel by 08600 10111.
Onbekende man se skets. Hy word met die voorval in Uitbreiding 2, Tshing, op Ventersdorp verbind.
OFM Nuus cg