Central SA
Maak jou gesin dié winter so veilig warm─── ZENANDE MPAME 12:31 Wed, 12 Jun 2024
“Moet nooit gaan slaap terwyl ’n kers nog brand nie, want dit kan omval en ’n brand veroorsaak.”
Die Noord-Kaapse polisie ondersoek steeds ’n geregtelike doodsondersoek ná die dood van drie kinders op Soebatsfontein in Namakwaland toe hulle in hul huis doodgebrand het.
Toe die polisie Saterdag (8/6) by die huis aankom, het hulle ’n vrou (25) met brandwonde gevind, maar die drie kinders (tussen 2 en 8) is dood in die slaapkamer aangetref. Die oorsaak van die brand is onbekend en die polisie ondersoek nog.
“Wetstoepassers werk hard om die omstandighede rondom hierdie tragedie in Soebatsfontein te bepaal. Die status bly dieselfde en ondersoeke duur voort,” sê Cherelle Ehlers, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Whilnique Adonis (8), Waylon Adonis (4) en Waylene Adonis (2). Foto: Gemsbok
DFA berig die polisie in Galeshewe ondersoek die dood van ’n vierjarige meisie wat Vrydagaand (7/6) in Chris Hani Park in haar huis doodgebrand het. Daar word beweer dat twee kinders, onderskeidelik vier en agt jaar oud, in die sinkhuis was toe die brand ontstaan het.
“'n Agtjarige meisie het daarin geslaag om te ontsnap, maar sy het brandwonde opgedoen. Die vierjarige meisie is in die brand dood en die oorsaak van die brand word nog ondersoek,” het Ehlers gesê.
Upington-polisie ondersoek intussen ’n saak van strafbare manslag ná die dood van ’n ma en haar drie kinders Donderdag 2 Mei in Paballelo toe hul sinkhuis aan die brand geslaan het.

Die vierjarige meisie is in die brand dood. Foto: DFA
“Ons stel nog ondersoek in na die dood van ’n ma en haar drie kinders in Paballelo. Daar word vermoed dat ’n brandende kers die brand veroorsaak het,” sê Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
“Met aankoms op die toneel was die gesin vasgevang in die brandende hut. Die brandweer het daarin geslaag om die brand te blus, maar die vier is ongelukkig in die hut dood.”
Noord-Kaapse polisie doen ’n beroep op inwoners om hierdie winter veiligheidsmaatreëls te tref weens die hoë voorkoms van huisbrande, wat tragedies tot gevolg het.

Die meeste huisbrande word veroorsaak deur kerse wat sonder toesig gelaat word. Foto: iStock
• Moet nooit gaan slaap terwyl kerse nog in jou woonplek brand nie.
• Maak brande binnenshuis net in ’n kaggel of stoof.
• Moet nooit in die bed rook nie. Rook eerder buite en maak seker dat sigaretstompies behoorlik weggegooi word.
• Maak seker dat alle vure in kaggels geblus is en verwarmers afgeskakel is voordat jy gaan slaap.
• Wees ekstra versigtig wanneer jy kook, veral met gas en oop vure.
• Hou vuurhoutjies, aanstekers en ander vlambare vloeistowwe buite bereik van kinders.
• Skakel elektriese komberse saans af en gebruik liewer ekstra komberse.
• Moenie water gooi op olie of ghries wat aan die brand geslaan het nie, want dit versprei die vuur. Gebruik liewer ’n brandblusser.
• As jou klere aan die brand slaan, stop, val en rol.
• As jou huis wel aan die brand slaan, kom uit, bly buite, roep om hulp en moenie weer jou brandende huis binnegaan vir troeteldiere of persoonlike besittings nie.
