On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Historiese standbeeld op Hertzogplein beskadig – VIDEO’S

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:23 Thu, 13 Jun 2024

Historiese standbeeld op Hertzogplein beskadig – VIDEO’S | News Article
Een van die De Jager-beelde wat op Hertzogplein beskadig is. Foto verskaf

“Ons is sterk teen die vernietiging en verwaarlosing van ons erfenis. Dit is hoekom ons gekies het om hier in die Vrystaat op te tree, veral in Bloemfontein.”

’n Historiese standbeeld op Hertzogplein in Bloemfontein se geskiedkundige middestad het weer onder vandale deurgeloop.

Die oortreders het een van die arms van ’n bronsbeeld op die verwaarloosde Hertzogplein van die elmboog tot by die hand afgesny. Bykomende merke op die standbeeld dui op verdere pogings om dit te beskadig.

Die letters van President Brand se beeld is afgesteel. Foto verskaf

Die vandalisme het Vrydagaand (7/6) plaasgevind, meen Lambertus van Rensburg, voorsitter van die Ou Presidensie Historiese Vereniging in Bloemfontein en ’n voorstander van die bewaring van die Vrystaatse hoofstad se erfenis.

Die standbeeld, deel van die Hertzogmonument wat op 21 September 1968 onthul is, beeld ’n Afrikanerseun saam met ’n Engelse seun uit. Die Hertzogplein is genoem na genl. J.B.M. Hertzog, wat van 1895 af ’n regter in Bloemfontein, onderbevelvoerder van die Vrystaatse leër tydens die Boereoorlog en eerste minister van Suid-Afrika van 1924 tot 1939 was.


Van Rensburg het verduidelik dat die beskadigde arm nie aan Hertzog se standbeeld, wat op ’n voetstuk staan, behoort nie, maar aan een van die groepfigure wat die verarmde Afrikaner en die hoop op ’n beter toekoms ná die oorlog van 1899 tot 1902 simboliseer.

Dit is nie ’n geïsoleerde voorval van vandalisme in Bloemfontein nie. Voorheen is Wêreldoorloggedenkplate op Hoffmanplein en briewe van pres. Brand se standbeeld gesteel. Die mure van Hertzogplein is ook met graffiti geskend.

Die Wêreldoorloggedenkplate op Hoffmanplein en briewe van pres. Brand se standbeeld gesteel. Foto verskaf

Die standbeelde, geskep deur die beeldhouer Danie de Jager, vang die emosies ná die Anglo-Boereoorlog vas. Van Rensburg het egter opgemerk dat Hertzogplein een van die gevaarliker gebiede in Bloemfontein geword het waar gereelde rooftogte plaasvind.


Van Rensburg vertel hy besoek maandeliks die plein, eens ’n spogplek van die Rosestad. “Die muur by die plein is besaai met gesteelde handsakke en aktetasse soos die mense hier beroof word.”

Die Ou Presidensie in Bloemfontein was ook in ’n toestand voor die FAK en die gemeenskap ingegryp het. Foto verskaf

Erfenis in die Vrystaat verval met rasse skrede en die regering doen niks nie, sê Jan-Danie Malan, die FAK se kultuurkoördineerder in die Vrystaat.


“Behalwe die vandalisme is die Memoriam-konsentrasiekampkerkhof ook aan die agteruitgaan en daar is groot probleme in Sannaspos, 30 km buite die Vrystaatse hoofstad, om maar ’n paar te noem. Die Ou Presidensie in Bloemfontein was ook in ’n toestand voor die FAK en die gemeenskap ingegryp het, en dít sonder staatsbefondsing.”


Volgens Malan het die FAK al talle klagte by die Bloemfonteinse polisie ingedien. Die FAK hou die situasie fyn dop en bied ondersteuning waar hy kan. “Ons is sterk teen die vernietiging en verwaarlosing van ons erfenis. Dit is hoekom ons gekies het om hier in die Vrystaat op te tree, veral in Bloemfontein. Die FAK eis nou verduidelikings!”

OFM Nuus cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.