Central SA
Oudhoofleier van Die Voortrekkers sterf 10 dae ná sy vrou─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:07 Thu, 13 Jun 2024

“Ek salueer ’n groot Afrikaner en nederige ’n kind van die Here wat vandag huis toe is.”
’n Oudhoofleier van Die Voortrekkers is skielik Donderdag (13/6) oorlede, tien dae nadat kanker ook sy vrou se lewe geëis het.
Johan van der Walt (79) is Woensdagaand (12/6) in die waakeenheid van die Panorama-hospitaal in Kaapstad se noordelike voorstede opgeneem. Hy het ’n sluimerende leukemie onder lede gehad, wat ’n paar dae vantevore aggressief geword het. Daar is hy in die intensiewesorgeenheid opgeneem en het hy aan orgaanversaking gesterf.
Sy vrou, Duba (77), is pas Sondag (9/6) uit die Gereformeerde Kerk Kaapstad begrawe, nadat sy op 3 Junie aan pankreaskanker gesterf het. Die egpaar het in Melkbosstrand afgetree.
Van der Walt was predikant van die Gereformeerde Kerke Reitz/Harrismith 1970–1974, Bloemfontein-Suidheuwels 1974–1979, Bloempark 1979–1983, Frankfort 1983–1989 en Rustenburg-Wes 1989–1998, toe hy op 31 Maart daardie jaar die bediening verlaat het.
Duba is Sondag begawe. Foto verskaf
Nadat die borrelende, lewenslustige Duba siek geword het, het hulle na Plattekloof verhuis. Van der Walt het op 10 Januarie 79 geword.
Hennie van Deventer, oudredakteur van Volksblad, skryf op Facebook Van der Walt se liggaam het eenvoudig net ingegee van skok ná sy vrou se dood en begrafnis. “Die familie is vanselfsprekend uiters geskok weens sy skielike dood en vra dat hul privaatheid gerespekteer word, totdat hulle tot verhaal gekom het.”
Die Voortrekkers Vrystaat het met groot hartseer verneem van sy skielike afsterwe, sê Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Vrystaat Voortrekkers. “Ds. Johan was die vierde gebiedsleier van Die Voortrekkers Vrystaat van Maart 1984 tot Mei 1989.
“Oom Johan het as Voortrekker diep spore in die Vrystaat getrap, veral in Frankfort, en het op verskeie gebiedskampe in die Vrystaat ’n groot rol gespeel.”
Ds. Johan en Duba van der Walt. Foto verskaf
Engelbrecht sê hy sal Van der Walt altyd onthou vir sy versiendheid en visie vir die beweging en die gebied. “Ds. Johan het in sy tyd ’n reuserol gespeel in die vernuwing van Doornkloof, wat ook gelei het tot die ingebruikneming van die nuwe Doornkloof op 14 Maart 1987, ’n opgegradeerde Doornkloof wat Afrikaners vandag nog gebruik. Hy het ’n passie gehad vir opleiding en toerusting.”
Van der Walt was hoofleier van Die Voortrekkers van 1990 tot 1997 toe hy koers moes gee tydens die moeilike oorgang. “In sy dienstermyn het die Voortrekkers sewe ononderhandelbare vereistes vir Afrikanerjeug bekendgestel,” sê Danie Langner, besturende direkteur van die Voortekkermonument.
Ds. Johan van der Walt (regs) word as sewende hoofleier van Die Voortrekkers ingehuldig deur sy voorganger, Carel Boshoff. Foto verskaf
“Die Voortrekkers het gedemilitariseer en begin om die beweging te moderniseer om by ’n snel veranderde Suid-Afrika steeds relevant vir ons jeug te bly.”
“Ek sal oom Johan onthou as ’n innemende mens wat regdeur my termyn as hoofleier beskikbaar was met sy wysheid, raad en lewendige belangstelling in ons Afrikanerkinders.”
Langner sê Van der Walt het die fondamente vir ’n gemeenskapsfokus gelê en deur woord en daad aan diensbare leierskap inhoud gegee. “Die noodsaaklike veranderinge was nie sonder hewige weerstand en kritiek nie, maar hy het ter wille van die groter saak vasgebyt en die Voortrekkers se voortbestaan daardeur verseker.
“Ek salueer ’n groot Afrikaner en nederige ’n kind van die Here wat vandag huis toe is.”
OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh