Central SA
Kinderbeskermingsmaand: Versorging behoort ’n gegewe te wees─── 09:57 Fri, 14 Jun 2024
“Dit is kommerwekkend dat ons in Suid-Afrika bewustheid moet skep oor kinderbeskerming.”
Kinderbeskermingsweek in Suid-Afrika, wat jaarliks van die laaste week van Mei tot die eerste week van Junie herdenk word, is ’n belangrike geleentheid om bewustheid op te skerp oor kinders se regte en die noodsaaklikheid om hulle teen mishandeling en verwaarlosing te beskerm.
Dit is kommerwekkend dat ons in Suid-Afrika bewustheid moet skep oor kinderbeskerming terwyl kinders, hul regte en hul veiligheid almal se natuurlike verantwoordelikheid behoort te wees, sê Suzette Oosthuizen, Solidariteit Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale strukture.
Volgens die hulpnavrae wat Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers ontvang het vir die tydperk Januarie 2022 tot Oktober 2023, verkeer Suid-Afrika se kinders in ’n krisis:
- gesinsgeweld: 138 gevalle aangemeld;
- kinderhofnavrae: 186;
- kindermishandeling: 141;
- seksuele misbruik van kinders: 54; en
- kinderverwaarlosing: 178.
Oosthuizen sê maatskaplike werkers beleef telkens hoe die stelsel kinders in die steek laat deurdat statutêre ondersoeke sloer, verhoordatums uitgestel word of dat sake glad nie op die rol geplaas word nie. “Sake by die polisie raak verlore en kinders se trauma kan nie (aandag kry) en verwerk word nie. Kinders word dus vir ’n tweede keer slagoffers van hulle omstandighede en word hulpeloos gelaat.”

Dis noodsaaklikheid om kinders teen mishandeling en verwaarlosing te beskerm. Foto: LinkedIn
Daar is ook skrikwekkende statistiek beskikbaargestel van aanmeldings die afgelope jaar wat “ons elkeen wakker moet laat lê”:
- 10 gevalle – kinders nie in skole nie;
- 32 gevalle – kinderverwaarlosing;
- 3 gevalle – gebrek aan gesondheidsorg;
- 44 gevalle – kindermishandeling;
- 77 gevalle – tekens van depressie; en
- 78 gevalle – geen inskakeling by ’n kerk nie.
Volgens Oosthuizen is die doel van Kinderbeskermingsweek om die publiek bewus te maak van die uitdagings waarmee kinders te kampe het, soos mishandeling, verwaarlosing, en uitbuiting. Die klem val tydens hierdie week op die bevordering van ’n veilige en ondersteunende omgewing vir kinders waarin hulle kan floreer en ontwikkel.

Kinders in Suid-Afrika het spesifieke regte en verantwoordelikhede. Foto: AOL.com
Die belangrikheid van ’n gebalanseerde benadering – waar kinders nie net as ontvangers van regte beskou word nie, maar ook as aktiewe deelnemers aan die samelewing met bepaalde verantwoordelikhede – moet beklemtoon word.
Sy beklemtoon dat kinders in Suid-Afrika spesifieke regte en verantwoordelikhede het wat in verskeie wette en regsdokumente uiteengesit word. Hierdie regte en verantwoordelikhede is hoofsaaklik vervat in die Grondwet en die Kinderwet. Hieronder is ’n opsomming van die belangrikste regte en verantwoordelikhede van kinders volgens Suid-Afrikaanse wetgewing:
Reg op versorging en beskerming
Kinders het die reg om versorg en beskerm te word teen mishandeling, verwaarlosing, uitbuiting en mishandeling (artikel 28 van die Grondwet), maar het ook die verantwoordelikheid om die wette van die land en die reëls van hul huis en skool te gehoorsaam en hulself te beskerm teen gevare en mishandeling.
Reg op basiese dienslewering
Kinders het die reg op toegang tot basiese gesondheidsorgdienste, voeding, skuiling en maatskaplike dienste (artikel 28 van die Grondwet), maar het ook die verantwoordelikheid om na hul eetgewoontes en leefwyse om te sien en hulle liggame te versorg.

Kinders het regte, maar ook verantwoordelikhede. Foto: iStock
Reg op identiteit
Elke kind het die reg op ’n naam en nasionaliteit vanaf geboorte, asook die reg om hul identiteit te behou (artikel 28 van die Grondwet), maar het ook die verantwoordelikheid om trots te wees op hulleself en ons land en moet ander respekteer.
Reg op onderwys
Kinders het die reg op basiese onderwys, wat verpligtend en gratis is vir die primêre fases van onderwys (artikel 29 van die Grondwet), maar het ook die verantwoordelikheid om gereeld skool by te woon, ouers en onderwysers te respekteer, te leer, huiswerk te doen en hulself te ontwikkel.

Kinders het die reg op basiese onderwys. Foto: Zebra Centre
Reg op meningsvryheid
Kinders het die reg om hul mening te lug in sake wat hulle raak, en hierdie menings moet in ag geneem word volgens hul ouderdom en volwassenheid (artikel 12 van die Kinderwet), maar kinders het ook die verantwoordelikheid om met eerbied na ander te luister en hulle te respekteer.
Reg op privaatheid
Kinders het die reg op privaatheid, insluitend die beskerming van hul persoonlike inligting (artikel 14 van die Kinderwet), maar het die verantwoordelikheid om ander se privaatheid te respekteer.
Reg op taal, geloof en kultuur
Elke kind het die reg om trots te wees op hul erfenis, oortuigings en geloof, maar hulle het ook die verantwoordelikheid om ander te respekteer.
“Kinderbeskermingsweek herinner ons daaraan dat die beskerming van kinders ’n daaglikse verantwoordelikheid is wat ons almal deel. Deur bewusmaking en aktiewe betrokkenheid kan ons ’n verskil maak en ’n veiliger en voorspoedige toekoms verseker vir ons kinders van Suid-Afrika,” sê Oosthuizen.
OFM Nuus cg
