Central SA
Polisie voer klopjag in Upington uit; R800k se dagga gevind─── 09:03 Sat, 15 Jun 2024
“Polisie het ’n lasbrief bekom om die perseel deur te soek.”
Lede van die Upington-grenspolisie, K9-eenheid en ZF Mgcawu-verkeerspolisie het inligting opgevolg oor dwelms wat na bewering van ’n perseel in dié Noord-Kaapse dorp verkoop word.
Sersant Omphile Masegela sê hulle het ’n lasbrief bekom om die perseel deur te soek en het beslag gelê op dagga met ’n straatwaarde van R852 500.

Inligting oor dwelms op ’n perseel in Upington is opgevolg. Foto: SAPD
’n Man (34) is in hegtenis geneem weens die handel in dagga en sal na verwagting vroeg in die week in die hof verskyn.
Die polisie in die ZFM-distrik werk onverpoosd daaraan om dwelms uit die Noord-Kaap se strate te verwyder.
’n Kamera wat voertuie se nommerplate lees, is op Upington geïnstalleer om die dorp se strate en hoofroetes te beveilig.

Upington se nuwe verkeerskamera wat voertuie se nommerplate kan lees. Foto: AfriForum
“Die kamera herken nommerplate deur kruisverwysing van sowel plaaslike en internasionale databasisse te gebruik,” het Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder in die Noord-Kaap gesê.
Volgens Strauss is die Upington-tak al vir ’n geruime tyd besig met dié kameraprojek en is hulle dankbaar om die eerste fase te begin. “Dit is net een van vele maniere waarop buurtwagte misdaad help bekamp.
AfriForum beplan om nóg kameras in die Upington-omgewing te installeer. “Ek wil inwoners aanmoedig om betrokke te raak by hierdie inisiatiewe.”
OFM Nuus cg
