On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Baba in Pelonomi lewe toe wel

───   11:03 Sun, 16 Jun 2024

Baba in Pelonomi lewe toe wel | News Article
Baba Junior en sy ouers, Kebaotse Phupha en Boitumelo Kgabale. Foto verskaf

“Die verwysingsbrief na die hospitaal se sielkundige is in die verkeerde pasiënt se lêer ingevoeg.”

Om ’n pa te word is vir sommige meer stresvol as vir ander. ’n Baba wat onlangs by Pelonomi dood verklaar is, is volgens sy ouers lewend en gesond in die Pelonomi- Tersiêre hospitaal gevind – dae ná sy geboorte.

Baba Junior se geboorte sal altyd ’n bittersoet herinnering vir sy ouers, Kebaotse Phupha en Boitumelo Kgabale, wees nadat hul seun verkeerdelik dood verklaar is terwyl hy lewend in die Neonatale Hoësorgeenheid was.

Ná die gebeure van sy geboorte het sy ouers genoem dat Junior goed aansterk, maar steeds nie by die departement van binnelandse sake geregistreer is nie weens komplikasies met DNS-toetse.

Baba Junior. Foto verskaf

Terwyl hulle die begrafnis van hul seun gereël het, het die egpaar op 12 Mei ’n oproep ontvang wat hulle laat weet het dat Junior leef.

Abigail Visagie van Bloemfontein Courant het die tydlyn van hierdie tragedie verduidelik. 

Volgens Phupha was sy vir haar laaste afspraak op 7 Mei by Pelonomi. By aankoms is verskeie toetse uitgevoer net om vas te stel dat Phupha hipertensie het. Sy het gesê sy is uiteindelik huis toe gestuur sonder om enige mediese aandag te ontvang. “Daar is selfs in ’n stadium aangekondig dat my lêer vermis is, maar ek het al my kliniekafsprake by Pelonomi se kraamsaal bygewoon,” het sy verduidelik.

Die volgende oggend, 8 Mei, het Phupha kontraksies gehad en is na die hospitaal gehaas. Die dokter het toe besluit dat sy deur ’n keisersnit geboorte moet skenk. “Ek het narkose gekry, so ek het nie kans gehad om my kind te sien nie. Sy pa is ook die geleentheid geweier om by te staan en ons baba te sien.”

‘Ek wou net my kind sien’

Nadat sy van die narkose herstel het, was daar geen tekens van haar pasgebore seun nie en sy is dadelik na Pelonomi se sielkundige verwys. “Ek moes besef het dat iets verkeerd was, want ek is die geleentheid geweier om my baba te sien. 

“Die sielkundige het my gevra hoe ek voel. Ek was nog nooit voorheen so deurmekaar nie want wat moes ek voel? Ek wou net my kind sien,” het sy vertel.

Volgens haar het die sielkundige voortgegaan en die skokkende nuus gegee dat haar kind weens komplikasies oorlede is. In hierdie stadium het sy steeds nie haar seun gesien nie.

Volgens woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid, Mondli Mvambi, is die baba gebore, maar na die Neonatale Hoësorgeenheid geneem weens ’n lae Apgar-telling. Hy het verder gesê dat ’n dokter wat haar internskap daar doen, besef het die ma het nog nie die baba besoek nie en sy het na die nageboorte-eenheid gegaan om die borsmelk aan te vra.

“Die ma is gevra maar sy het aangedui dat daar vir haar gesê is die baba leef nie,” het Mvambi gesê. Hy het ook genoem dat die dokter toe aan die ma verduidelik het dat die baba lewe en in die hoësorgeenheid opgeneem is.

‘’n Verskoning nie genoeg nie’

Mvambi het intussen gesê hul ondersoek is nou afgehandel. Hy het verduidelik dat daar twee pasiënte was met soortgelyke vanne, soortgelyk uitgespreek maar anders geskryf. Die ma het narkose ontvang voor die keisersnee en haar baba is na die Neonatale Hoësorgeenheid geneem vir verdere bestuur, terwyl die tweede pasiënt se baba doodgebore is.

Die verwysingsbrief na die hospitaal se sielkundige is in die verkeerde pasiënt se lêer ingevoeg. Alle moeders wat hul babas verloor het, is toe na die sielkundige vergesel vir berading. ’n Verskoning is aan die familie gerig en hul baba is in ’n gesonde toestand ontslaan.

Hoewel ’n verskoning deur die departement uitgebrei is, is die ouers ongelukkig en voel ’n verskoning nie genoeg nie. Hulle beweer ook daar is geen ooreenkoms tussen die vanne van die twee pasiënte nie.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.