On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Pastoor tydens diens vasgetrek ná Swartruggens-plaasmoord

───   ZENANDE MPAME 07:21 Tue, 18 Jun 2024

Pastoor tydens diens vasgetrek ná Swartruggens-plaasmoord | News Article

“Die pastoor is na bewering in besit gevind van twee vuurwapens wat tydens die plaasmoord gesteel is.”

Noordwes-polisie het twee verdagtes (35 en 36) in hegtenis geneem in verband met die moord, diefstal, huisroof en ontvoering wat ’n week gelede (11/6) op ’n plaas by Swartruggens plaasgevind het. 

Die verdagtes is onderskeidelik by Swartruggens en Rustenburg in hegtenis geneem. Vier verdagtes het na bewering die plaas betree en Elizabeth Maseloane (60) vermoor. Sy was alleen tuis. Die slagoffer se man (70) is met sy aankoms deur die verdagtes aangerand en na die huis geneem. 

Hulle het die huis deursoek en huishoudelike items op twee bakkies gelaai. Die verdagtes het die man ook op een van die bakkies gelaai en hom ontvoer. Hy het ontsnap deur van die bewegende voertuig te spring en te vlug om nabygeleë boere te waarsku. Dié het die polisie ontbied.

“Die eerste verdagte is Woensdag (12/6) aangekeer nadat sy in besit gevind is van vermoedelik gesteelde items in haar huis in ’n informele nedersetting in die omgewing,” sê Amanda Funani, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Ná verdere ondersoek is ’n man (35) Vrydag (14/6) in die Swartruggens-landdroshof aangekeer waar hy verskyn het vir huisbraak en diefstal wat hy na bewering in ’n ander voorval in April gepleeg het. Hy was op uit borgtog, maar moes in die hof verskyn. 

Verdere ondersoeke het Vrydag ook gelei tot die inhegtenisneming van ’n vrou (30), wat dié verdagte (35) se meisie is. Sy is by haar huis in Madikwe gearresteer weens die besit van vermoedelik gesteelde eiendom. Sy sal na verwagting Dinsdag (18/6) in die Swartruggens-landdroshof verskyn.

Nóg ’n verdagte is Saterdag (15/6) in die vroeë oggendure tydens ’n misdaadintelligensie-gedrewe operasie by sy huis in Rustenburg in hegtenis geneem. Dit is nadat hy versuim het om rekenskap te gee van die vermoedelik gesteelde voertuig wat in sy besit gevind is. Die voertuig het aan die Swartruggens-slagoffers behoort.

In ’n verdere inhegtenisneming wat met dieselfde saak verband hou, sal ’n verdagte (45) na verwagting ook Dinsdag (18/6) in die Mogwase-landdroshof verskyn vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere en die onwettige besit van vuurwapens. 

‘Die pastoor is tydens ’n kerkdiens in hegtenis geneem’

Dié verdagte, wat ook ’n pastoor is, is Sondag (16/6) by Mogwase in hegtenis geneem terwyl hy ’n kerkdiens gehou het. “Die pastoor is na bewering in besit gevind van twee vuurwapens wat tydens die plaasmoord gesteel is,” het Funani gesê.  

Intussen is 'n soektog na die oorblywende verdagte/s aan die gang.

Die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Sello Kwena, het die multi-dissiplinêre span – bestaande uit die Swartruggens en Bojanala Subdistrik 2 se speurdertaakspan, Rustenburg se Misdaadintelligensie-, Rustenburg se Openbare Orde Polisie- (POP) en Rustenburg se Taktiese Reaksie-eenheid – bedank vir die harde werk wat tot die inhegtenisnemings gelei het.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.