On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Insette wil verval in Noord-Kaapse munisipaliteite keer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:17 Tue, 18 Jun 2024

Insette wil verval in Noord-Kaapse munisipaliteite keer | News Article
“Munisipaliteite moet pa staan vir hul mislukkings en hul sokkies optrek, of hande vat met AfriForum.” Foto verskaf

“Die erns van verval is só omvangryk, munisipaliteite moet dringend aandag skenk aan die organisasie se voorstelle vir die regruk van tientalle probleme.”

Die verval van munisipaliteite in die Noord-Kaap en die agteruitgang van dienslewering en belangrike infrastruktuur neem krisisafmetings aan.

Tydens AfriForum se jaarlikse hersiening van munisipaliteite se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) het hulle die afgelope maand insette by vyf munisipaliteite in die noordooste van dié provinsie ingedien is, sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se koördineerder vir die Karoostreek.

“Die erns van verval is só omvangryk dat munisipaliteite dringende aandag moet skenk aan die organisasie se voorstelle vir die regruk van tientalle probleme in die Frances Baard- en Pixley ka Seme-distriksmunisipaliteit. Die GOP-proses bied aan die gemeenskap die geleentheid om aanbevelings te doen oor dit waarvoor munisipaliteite in die daaropvolgende jaar moet begroot.”


Volgens Van der Linden is ’n munisipaliteit se GOP deurslaggewend vir die volhoubare ontwikkeling van plaaslike gemeenskappe. “Hierdie plan skets ’n strategiese raamwerk vir onder meer infrastruktuur-, maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling en is noodsaaklik vir die toekenning van hulpbronne,” sê sy.

“AfriForum se deelname aan hierdie proses is daarom van kritieke belang om te verseker dat die behoeftes en bekommernisse van die publiek geïdentifiseer en uiteindelik as deel van munisipaliteite se ontwikkelingsplanne ingesluit word.”


Afriforum het die volgende insette aan munisipaliteite in die noordoostelike Noord-Kaap takke gelewer:

  • In Dikgatlong-munisipaliteit (Barkly-Wes en Delportshoop) is daar ’n behoefte om infrastruktuur op Delportshoop te herstel, in stand te hou en op te gradeer, insluitend paaie, naamborde, die openbare swembad, die waterstelsel en straatligte. Kwessies van onwettige storting, instandhouding van stortingsterreine en vullisverwydering moet ook aandag kry.
  • In Phokwane-munisipaliteit (Hartswater en Jan Kempdorp) moet die swak bestuur van stortingsterreine dringend aandag kry, veral ten opsigte van sekuriteit, toegangsbeheer, onwettige storting, brandrisiko’s en onaangename reuke.
  • In Siyathemba-munisipaliteit (Prieska, Marydale en Niekerkshoop) sluit diensleweringskwessies op Prieska swak padtoestande, watergehalte, stadige lekherstelwerk, onwettige storting, stortingsterreintoestande, vullisverwydering en begraafplaasveiligheid in.
  • In Siyancuma-munisipaliteit (Douglas, Griekwastad en Campbell) moet 17 kwessies aandag kry, veral die kragnetwerk, hospitale, toeristeaantreklikhede, rioolsuiweringsaanleg en sportfasiliteite.
  • Dringende probleme Vir Sol Plaatje Munisipaliteit (Kimberley) sluit in padagteruitgang, parkinstandhouding, watergehalte, pompstasies, stortingsterreinbestuur, vullisverwydering en die kragnetwerk.


“Munisipaliteite in dié deel van die Noord-Kaap ondervind tans ernstige uitdagings ten opsigte van infrastruktuurontwikkeling, dienslewering, omgewingsvolhoubaarheid en maatskaplike aangeleenthede, maar het nou die geleentheid om hierdie probleme te takel.

“AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteite uit te oefen om toe te sien dat die verval nie net gestuit word nie, maar dat die vooruitgang en ontwikkeling van die streek prioriteit geniet.”

Sy moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by gemeenskapsorganisasies soos AfriForum om ook die geleentheid te benut om perspektief te bied op kwessies wat munisipale ontwikkelingsplanne sal verryk.

“Deelname van dié aard bevorder ’n waardevolle gevoel van eienaarskap en aanspreeklikheid onder gemeenskapslede en moedig hoër gemeenskapsbetrokkenheid tot voordeel van die hele gemeenskap aan,” verduidelik sy.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.