Central SA
Kinders moenie koffie drink─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:30 Thu, 20 Jun 2024

“Klein slukkies lyk dalk skadeloos, maar dit kan lei tot ál meer elke keer, en kot voor lank het jy ’n probleem op jou hande.”
“Ek drink nie koffie om wakker te word nie; ek word wakker om koffie te drink,” het iemand eenkeer gesê.
“Kinders is gewoond daaraan om grootmense na te aap, ons goeie én ons minder goeie gewoontes. Hulle sien hoe grootmense gereeld koffie maak en wil dan ook hê. Kinders word gesê om nie dwelms en drank te gebruik nie, maar sommige ouers laat steeds hulle kinders koffie drink,” sê dr. Chantelle van der Bijl, ook bekend as Bloem MomDoc op sosiale media.
Chantelle van der Bijl. Foto Christine Watson Photography
Koffie is eintlik ’n sosiaal aanvaarbare dwelm, meen sy. “‘Dwelm’ is dalk ’n sterk woord, maar as ’n mens kyk na die uitwerking daarvan op kinders, is dit waar!”
Groot internasionale pediatriese gesondheidsorganisasies stel voor dat kinders onder twaalf nie kafeïendrankies, insluitend koffie, drink nie. “Bo twaalf jaar moet nie meer as 100 mg kafeïen geneem word nie,” sê Van der Bijl.
Onthou, kinders het genoeg energie om hulle aan die gang te hou soos dit is. As jou kind moeg is, laat hom deur jou dokter ondersoek om gesondheidskwessies soos bloedarmoede en ander voedingstekorte uit te sluit. Van der Bijl verduidelik dat elke handelsnaam ’n verskillende hoeveelheid kafeïen bevat en die metode om koffie te brou verskil ook, maar dit kan wissel tussen 50 mg -100 mg per koppie.
Koffie kan gedragsprobleme by kinders veroorsaak. Foto: iStock
“Koffie en yskoffie wat in die winkel gekoop word kan selfs baie meer kafeïen bevat. Die meeste tee, gaskoeldranke soos Coca-Cola en selfs sjokolade bevat kafeïen. Energiedrankies het ’n hoë kafeïeninhoud en selfs daardie lekker koppie warm sjokolade waarmee kinders bederf word, bevat kafeïen.”
Van der Bijl verduidelik kinders se uitwerking op kafeïen is baie meer omdat kinders ’n laer liggaamsgewig in vergelyking met ’n volwassene het, daarom sal die invloed van kafeïen meer wees. “Hulle metabolisme is ook nog nie ontwikkel om kafeïen so goed soos ’n volwassene te hanteer nie. Kinders groei en ontwikkel steeds en die gevolge kan egter baie nadelig wees.”
Uitwerking van koffie op kinders
- Kafeïen is ’n stimulant en dit kan hulle hiperaktief maak.
- Dit kan kinders se bloeddruk en hartklop verhoog.
- Dit kan refluks en sooibrand verhoog.
- Dit kan kalsiumabsorpsie inhibeer wat baie belangrik is vir beengesondheid en groei by kinders.
- Koffie is suur wat tandemalje kan beskadig en vlekke kan veroorsaak.
- Dit sal lei tot laer gehalte en hoeveelheid slaap. Slaap is noodsaaklik in die groeijare vir optimale breinontwikkeling en gemoedsregulering.
- Hoofpyn en swak konsentrasie kan lei tot swak skoolprestasie.
- Dit kan lei tot eetlusversteurings en voedingstekorte.
- Kafeïen kan verslawend wees.
- Kafeïen kan ook rusteloosheid en angs veroorsaak wat hierdie gevoelens by ’n kind met geestesgesondheidskwessies kan vererger.
- Die suiker wat in koffie gegooi word vir kinders kan diabetes en vetsug veroorsaak.
Volgens Van der Bijl word kafeïen dikwels in NICU aan premature babas gegee om asemhalingsprobleme soos apnee te voorkom. “In hierdie gevalle word dit per gewig bereken, dus oorskry die dosis nie die veilige hoeveelheid vir die baba nie. Dit moet egter onder noukeurige toesig en aanbeveling van ’n spesialis gegee word.”
‘Daar is baie ander kosse wat antioksidante bevat’
Koffie is egter nie net nadelig nie en navorsing bewys koffiebone bevat antioksidante wat kan help om mense teen sekere siektes en toestande te beskerm. “Daar is egter geen navorsing wat bewys dat die drink van koffie van kleins af ’n invloed kan hê nie. Daar is baie ander kosse wat antioksidante bevat wat veiliger is om te eet, soos vrugte en groente.”
Van der Bijl stel voor indien jou kind, jonger as twaalf, reeds koffie drink, dit dadelik gestop moet word. “Klein slukkies lyk dalk skadeloos, maar dit kan lei tot al hoe meer elke keer en dan het jy ’n probleem op jou hande.”
OFM Nuus dg