On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Wenke hoe om beste kleuterskool te kies

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:32 Wed, 19 Jun 2024

Wenke hoe om beste kleuterskool te kies  | News Article
Foto: iStock

Ouers of voogde moet ’n lys vrae en verwagtinge wat jy in jou kind se kleuterskool wil sien hê.

Om jou kind in iemand anders se sorg te laat is ’n skrikwekkende gedagte. Bewaarskole spring op soos paddastoele, maar hoe weet jy watter een die beste vir jou kind sal wees?

Dr. Chantelle van der Bijl, ook bekend as Bloem MomDoc, sê ouers of voogde moet ’n lys vrae opstel oor wat hulle van die kleuterskool verwag. “Rangskik dan die aspekte in drie verskillende kategorieë: baie belangrik, belangrik en onbelangrik.”

Jy moet die beste keuse maak vir jou kind. Foto: iStock

Sy gee ook raad oor van die belangrikste aspekte waarna daar gekyk moet word by kleuterskole: Die bostelegraaf is ’n uitstekende begin. Vra jou vriende en kollegas of hulle weet van goeie skole of in watter skole hul kinders is. 

As jy ouer kinders het, vra hul vriende se ouers wat kleiner kinders het. Google is jou vriend, en plaaslike sosialemediabladsye en -groepe kan ook help. Skooladministrasie is ’n belangrike aspek. Geregistreerde instellings vir vroeëkinderontwikkeling of persone wat na meer as ses kinders omsien moet by die provinsiale regering geregistreer wees.

Dit is ook belangrik dat alle personeel basiese opleiding in noodhulp het, asook opleiding in vroeë kinderontwikkeling. “Hulle moet ook jaarlikse polisieverklaring indien.”

Doen deeglik navorsing voordat jy op ’n kleuterskool besluit. Foto: iStock

Belangrike punte vir oorweging

  • ’n Veilige omgewing
  • Die versorging van siek kinders
  • Genoeg spasie
  • Goeie ventilasi;
  • Veilige drinkwater 
  • Higiëne en toiletgeriewe 
  • Stoor van skadelike materiale soos gifstowwe en skoonmaakmiddels 
  • Vullisverwydering 
  • Higiëniese voorbereiding van kos 
  • Skeiding van kinders van verskillende ouderdomsgroepe 
  • Noodaksieplanne 
  • Veiligheidskameras op die terrein.

“Gesondheid- en veiligheidsbeleide en -prosedures moet nie oor die hoof gesien word nie, want jy wil hê jou kleinding moet veilig wees.” 

Let op na die volgende:

  • Verwaarlosing en mishandeling
  • Brandveiligheid en ontruimingsplanne
  • Basiese noodhulp vir alle onderwysers en assistente
  • Af- en oplaai – wie kan die kind by die skool kom haal en hoe om te reël dat iemand anders die kind kom haal?
  • Boelie en afknouery kom selfs in voorskool voor verseker dat jou kleuterskool ’n teenboeliebeleid het.
  • Insidentaanmelding – as jou kind seerkry, hoe en by wie word dit aangemeld?
  • Klagteprosedures
  • Vroeë intervensieverwysings – as hulle agterkom jou kind is stadig in sekere aspekte, sal hulle jou na ’n spesialis verwys?

Kies die kleuterskool wat by jou en jou kind se behoeftes pas. Foto; iStock

Van der Bijl sê kinders het ’n groot teiken geword vir ontvoering en daarom is die deel van inligting van kardinale belang.

“Ouers en voogde moet weet watter persoonlike inligting word gedeel en aan wie dit gedeel word. Daar moet toestemming gegee word voordat kinders se foto’s op enige sosialeplatform geplaas word.” Om ’n kleuterskool te kies, gaan nie net oor die gemak van die kleuter nie, maar dus ook vir die ouers en voogde. 

  • Begroting: Maak seker dat die kleuterskool binne jou begroting pas, asook addisionele koste soos registrasiefooie, skenkings en buitemuurse aktiwiteite.
  • Klasgrootte: Gaan die aantal kinders in die skool en in elke klas na om te verseker dat jou kind voldoende een-tot-een aandag sal kry.
  • Ondersteuning vir spesiale behoeftes: Bevestig die kleuterskool is toegerus om spesiale behoeftes te hanteer, insluitend ADHD, gehoor- of gesiggestremdheid, ontwikkelingsagterstande, ens.
  • Dissipline: Verstaan hoe die kleuterskool gedragskwessies soos skree, oortreding van reëls en die byt van ander kinders hanteer. 
  • Ligging: Die kleuterskool moet gerieflik naby jou huis of werk geleë wees.
  • Etes: Vra of maaltye by die fooie ingesluit is en of dit gesond en gebalanseerd is. Dit moet ook dieetbeperkings soos allergieë akkommodeer.
  • Siektebeleid: Leer die kleuterskool se beleid oor die toediening van medikasie, die hantering van siek kinders en vereistes vir siektebriewe. 
  • Ouerbetrokkenheid: Verstaan die vlak van ouerbetrokkenheid wat verwag word, insluitend deelname aan ouerdae, fondsinsamelings en onderwyser-ouervergaderings.
  • Spesiale geleenthede: Kyk of die kleuterskool spesiale herinneringsdae soos konserte, fotodae, grootouersdae en pieknieks reël.
  • Bedryfsure: Verifieer die kleuterskool se werkure, beleid vir laat afhaal, en of dit oop is tydens skool en openbare vakansiedae.
  • Potjiedissipline: Vra wat is die skool se verwagtinge ten opsigte van potty training en of hulle kinders help met dit.
  • Buitemuurse aktiwiteite: Kyk wat aangebied word, asook na die liggings, vervoerreëlings en gepaardgaande koste.
  • Onderrigbenadering: Bepaal of die kleuterskool ’n spesifieke kurrikulum volg, speelgebaseerde leer gebruik of op werkkaarte staatmaak.
  • Taal: Maak seker die kleuterskool bied onderrig in jou huistaal of is tweetalig, as dit vir jou belangrik is.
  • Ouderdomsgeskikte fasiliteite: Klein toilette, stoeltjies vir wasbakke en speelterrein.
  • Skadu:  Vir speelplekke buite.
  • Parkering: Is dit veilig. 

Kinders moet veilig wees by die kleuterskool. Foto: iStock

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.