Central SA
Ongeluk in Noordwes eis ouers en ouma, kinders oorleef─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:44 Wed, 19 Jun 2024

“Ek werk elke dag in die omgewing, en toe hulle ná ’n kwartier nog nie hier aangekom het nie, het ek hulle gebel.”
Twee jong kinders is die enigste oorlewendes ná ’n grusame ongeluk in Noordwes naby die Noord-Kaapse grens. Nico Venter, sy lewensmaat Sammy-Jo Christie, en haar ma, Debbie Christie, is Sondagaand (16/6) in ’n ongeluk tussen Christiana en Jan Kempdorp oorlede. Hulle was betrokke in ‘n botsing reg van voor met ’n ander voertuig.
Hulle twee kinders, Mia (5) en Dean Venter (14 maande), het die ongeluk oorleef. Albei het hul dybeen gebreek.
Nico Venter en Sammy-Jo Christie. Foto: Facebook
Volgens Kobus Potgieter (32), wat verloof is aan Debbie se ander dogter, Gail, was die oorledenes en die kinders van Brakpan op pad na Hartswater. “Hulle was eintlik op pad na Nico se pa, Martin, wat in die hospitaal in Kimberley is, maar hulle sou die aand by ons oorgeslaap het.”
Potgieter sê die laaste keer wat hy met Nico gepraat het, was hulle ongeveer 30 km vanaf Hartswater. “Ek werk elke dag in die omgewing, en toe hulle ná ’n kwartier nog nie hier aangekom het nie, het ek hulle gebel.”
Daar was egter geen antwoord nie, en Debbie se foon het deurgegaan na haar man, Sam, wat in Brakpan is. “Ek en Gail het gery om hulle te gaan soek.”
Met hul aankoms op die toneel was die ambulans en die polisie reeds daar. Kobus sê dit is egter nog nie bekend of die oorledenes op slag dood is nie.
Sammy-Jo Christie. Foto: Facebook
Die twee kinders is per helikopter na die Mediclinic Gariep geneem en is steeds in die hospitaal.
Martin het homself ná die ongeluk uit die hospitaal ontslaan en is terug na sy huis op Jan Kempdorp. Potgieter sê Mia het begin huil toe hulle haar van haar ouers en ouma vertel, “maar Dean is nog te klein om te verstaan”. Die kinders is nou in Kobus en Gail se sorg.
Die familie kan dit nie bekostig om die liggame van die oorledendes in Brakpan te kry nie. Nico word Saterdag in Hartswater begrawe, en Sammy-Jo en Debbie Vrydag in Brakpan (29/6).
OFM Nuus dg