Central SA
Aanranding van rugbyskeidsregter in Kimberley wyd veroordeel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:04 Thu, 20 Jun 2024

“Cameron het nie eens die wedstryd waar sy bygedam is, geblaas nie en was slegs ’n assistant-skeidsregter."
’n Ontstelde ouer het ’n vroueskeidsregter tydens ’n skolerugbywedstryd in Kimberley te lyf gegaan.
“Sulke voorvalle is uiters kommerwekkend en sulke gedrag word wyd veroordeel,” sê Kat Swanepoel, die Spar Rugbyweek se skeidsregterbestuurder. Cameron Dyers (26) was ’n assistent-skeidsregter in ’n wedstryd Dinsdag (18/6) tussen Van Druten en die ZFM-o. 17- streekspan toe die voorval plaasgevind het.
“Cameron het nie eens die wedstryd waar sy bygedam is, geblaas nie en was slegs ’n assistant-skeidsregter. Die wedstryd is deur ’n manskeidsregter geblaas,” sê Swanepoel.
‘Cameron het probeer om die situasie uit te sorteer’
“Ná ’n woordewisseling tussen die skeidsregter en die ouer het die skeidsregter weggestap. Cameron het probeer om die situasie uit te sorteer en die ouer versoek om nie drama te veroorsaak nie, toe hy haar skielik in die gesig geslaan het.”
Cameron het beserings aan haar kakebeen opgedoen. “Sy het vanoggend my kantoor besoek en genoem sy voel oukei. Sy moet die naweek ’n wedstryd in die Boland gaan blaas.”
Cameron is al meer as tien jaar ’n skeidsregter en twee jaar deel van Saru se nasionale paneel van vroueskeidsregters. Sy verkies om nie kommentaar te lewer nie, omdat ’n saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak is.
‘GWSV sal volgende week ’n verklaring uitreik’
Die Griekwaland-Wes-skeidsregtervereniging (GWSV) het by navraag gesê dat hulle volgende week ’n verklaring sal uitreik. In 2022 is ’n onderwyser van die Hoërskool Daniëlskuil en ’n skeidsregter van GWSV, Fires van Vuuren, deur ’n hulpafrigter, ouers en twee leerlinge van dié skool ná ’n rugbywedstryd aangerand. Die wedstryd tussen Daniëlskuil en die Hoërskool Kathu was deel van die departement se skolesportkalender.
Christo Kemp, ’n onderwyser van die Hoërskool Daniëlskuil, is ná afloop van die wedstryd deur ’n ouer gejaag wat hom aan die hoofkant van die veld ingehaal het, waarna die hulpafrigter Kemp geslaan het.
Die Hoërskool Daniëlskuil se skoolwapen. Foto: Facebook
Tyrese Doman, die hulpafrigter, is ná ’n tugverhoor lewenslank van alle betrokkenheid in rugby geskors. “Hy mag nooit weer ’n rugbywedstryd op enige vlak, hetsy skole of nasionaal, oor die land heen bywoon nie. Hy mag ook nie betrokke raak as ’n speler, skeidsregter of afrigter nie en mag ook nie in enige rugbybestuur dien nie,” sê Swanepoel.
Die twee Daniëlskuil-leerlinge wat ook by die voorval betrokke was, is vir 24 wedstryde geskors. Die een se straf is vir agt wedstryde opgeskort. Twee toeskouers het ook skuld beken op die klagte teen hulle en is lewenslank van enige betrokkenheid in rugby verbied.
OFM Nuus dg